Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Net hy en die stilte en die blou dam se haaie

haaiwagter s.nw. Iemand wat opgelei is om haaie in die see te gewaar en branderryers en baaiers te kan waarsku. – Woordeboek van Afrikaans Vandag. Hoofredakteur: Jana Luther.

In die oggende staan Dennis Chikodze (39) vroeg op. Hy het ’n belangrike werk om te doen.

Dennis is ’n haaiwagter. Hy moet sorg dat swemmers en branderplankryers nie deur haaie aangeval word nie.

Met sy fiets ry hy al die pad van Masiphumelele wat tussen Noordhoek en Kommetjie geleë is. Hy ry tot by sy uitkykpunt hoog teen Boyes-rylaan.

Daar het hy ’n uitsig oor Valsbaai, reg tot by Robeiland en verby. Die blou dam is mooi, tog, hy het ’n donker kant. Jy dink nog hy is jou speelmaat, maar sy onderwaterwêreld kan jou lelik verniel of vernietig.

Dit is ’n verwaaide, koue dag toe ek besluit om tyd met Dennis deur te bring. Gewoonlik sit hy alleen in sy uitkykhuisie.

Vandag is daar egter iemand wat eenkant staan en ’n ogie oor die soutwater hou terwyl ek met hom praat. Dennis is sag van geaardheid. Hy werk al vir nege jaar hier.

Hy ken sy storie. Van visse, haaie, branders, wolke en winde wat uit alle rigtings waai kan jy hom min vertel.

Die organisasie wat hom in diens geneem het, is Shark Spotters. Hulle help nie net baaiers nie, maar ook mense wat uit die arm gemeenskappe in dié gebied kom.

Die haaiwagters word goed opgelei. Hulle word ’n kans gegun om hul lewens te verbeter. Daar is twee vyf uur lange skofte. Omdat die werk intense konsentrasie verg, kan jy nie langer as daardie hoeveelheid tyd oor die see tuur nie.

Dennis Chikodze

Hy kyk oor Muizenberg uit. Dennis vertel die eerste ding wat jy doen, is jy moet jou terrein goed leer ken. Jy moet jouself vertroud maak met rotse en kelpwoude.

Hy dra ’n gepolariseerde sonbril wat die skerp lig weg reflekteer. Dan is daar die verkyker. Ek pas sy sonbril aan en sien ’n rooigety, iets wat ek met die naakte oog nie sou waarneem nie.

Daar is ongeveer 300 branderplankryers wat tot diep in die water gaan. In sy tydperk hier het hy al honderde haaie gesien, veral witdoodshaaie. Ook skole geelstert, pylstertvisse, walvisse, dolfyne en robbe.

Die afgelope twee jaar het hy nog nie een witdoodshaai gesien nie. Moordvisse val hulle aan en ruk hul lewers uit en eet nét dit. Hulle beweeg in ’n paar.

Tog moet hy vir ander gevaarlike visse uitkyk. Sou hy een bespied, laat weet hy die haaiwagter op die strand. ? Sirene lui.

Mense moet dan vinnig uit die water kom. ’n Wit vlag word gehys.

Die rooi vlag vertel jou die haai is weg. ’n Swarte sê dat die water troebel is en groen beteken die water is deursigtig.

’n Koue seewind kom op. “Word jy nie eensaam hier nie?” vra ek.

“In die begin, ja. Toe sing ek vir myself. Later het ek met myself begin praat. Nou is dit ek en die stilte. En die groot see. Ek is gelukkig.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.