Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Peusel aan herinnering se kluitjies

souskluitjies s.nw. Kluitjies van rys of meel wat in water gaargekook en met botter, suiker en kaneel bedien word. Samestelling van sous en kluitjies. – Etimologiewoordeboek van Afrikaans (G.J. van Wyk et al).

Die titel van Karel Schoeman se roman Waar ek gelukkig was het my nog altyd bygebly, al het ek die boek jare terug gelees. ’n Jong vrou van Bloemfontein besoek die plekke wat sy as kind geken het. Sy verlang met behaaglikheid na tydstippe uit haar verlede.

Dit het my geneem na oomblikke in my kleintyd waar ek ook sieleheil gehad het: By groot ou kombuistafels in losieshuise in Kloofstraat, later Seepunt. Partykeer was geld skaars. My jong enkelouerma het dan vir ons witbrood met plaasbotter gesmeer.

Ons het dit in swart koffie gedruk en so geëet. Soms was daar waatlemoen by. Ek sal nooit die saligheid van daardie armmanskos vergeet nie. Dit was ’n feesmaal. Ek daar met my haasbekkie en my mooi moeder in suiwer eenvoud gehul in ons eie koffiekanliefde.

Vroeër vanjaar onthou ek ’n gesprek by die Woordfees waar die mediaman Ton Vosloo gepraat het. Sy ma was ook enkel, ’n weduwee.

Ek sal nooit die saligheid van daardie armmanskos vergeet nie. Dit was ’n feesmaal.

As arm jong koerantman by Die Oosterlig wat in Uitenhage gewoon het, moes hy per trein werk en huis toe ry. Hy het soms ver ná middernag by die huis aangekom. Sy ma het altyd gesorg daar is iets lekkers om aan te smul.

Wat hy met liefde onthou, is haar souskluitjies wat hy sommer so twee-uur in die oggend uit die yskas uit geëet het. Daardie kort momente bly by hom.

Op ’n Facebook-blad oor ou bioskope van die Kaap, plaas Lorna Murray ’n vinjet uit die 1960’s oor die ou Alhambra: “It was here, a memory forever etched, that on leaving the cinema one afternoon, I saw a marvellous-looking man staring at a poster of a forthcoming attraction. As he turned and walked away, I realised it was my father. I had not seen him for about 10 years.”

Die digter dr. William Rowland het in Seepunt grootgeword. Gedurende die oorlog moes kuswoonbuurte totaal verdonker. Wonings het in die nag hul vensters swart gemaak. Motors se koplampe is toegeplak, straatligte afgeskakel.

Een pikdonker nag het die jong William op hul woning se stoep uitgestap.

Een pikdonker nag het die jong William op hul woning se stoep uitgestap. Daar was ’n blinding.

Hy het dit op ’n skrefie getrek en daardeur na die lug bo geloer. Omdat die stad in duisternis gehul was, het die magtige sterrehemel soos op die platteland geskitter.

Hy het na die hoër blink liggies gekyk. Omtrent ’n jaar later het hy sy sig verloor, maar tot vandag toe dink hy met ’n vervlegting van melancholie en weltschmerz aan daardie oogknip.

In ’n gedig wat hy daaroor geskryf het, sê hy: “Eenmaal / (ek was drie jaar jonk) / eenmaal / in ’n nag donker / van die donkerte van al die jare / van my lewe wat voorlê / het ’n seuntjie deur ’n blinding / opgekyk en met verwondering / aanskou / die skitterprag van die heilige sterre /.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.