Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Onder die draad het hulle swart sakke gedra

kisklere s.nw. Klere wat net by spesiale geleenthede gedra word. Beste klere, bêreklere, onderskei van draklere.

– Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

– Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Onlangs besoek ek die Royal Hotel in Riebeek-Kasteel. Vandag is die plek spiekeries.

Toe ek dié hotel 15 jaar gelede besoek het, was dit stowwerig. Ek kon nie help terugdink nie: Dit was bloedig warm, die dag het na grondpad geruik.

’n Paar van ons het buite op die groot stoep gesit en kuier. Van die mense om ons het opgestaan en gesê: “Kom, dit begin nou.”

“Wat?” vra ons.

“Die huldigingsdiens. Almal is welkom.”

’n Jongman van die dorp, wie se naam my nou ontgaan, het glo ná ’n aand se kuier by dié hotel agter op iemand se bakkie geklim. Toe die voertuig wegtrek, het hy afgeval en is later oorlede.

“Vandag word sy lewe gevier met ’n modeparade,” sê hulle toe. “Geen trane nie, net lekkerlyf en loslit.”

Hy was glo ’n modeontwerper. Aangesien ons reeds ietwat hoog met die boud was, het ons saam met die vreemdelinge begin loop. ’n Gekombineerde modeparade en roudiens het darem net te goed geklink om mis te loop.

Toe die modelle uitkom, was hul rokke en bloese van hoenderdraad.

Agter die hotel was daar ’n riffelysterskuur wat blink in die son gestaan het. Binne was rye rooi plastiekstoele met ’n groen loopgang vir die modelle.

Sjampanjenooiens het bottels vol borrelende vonkelwyn uit ’n groot aluminium- wasskottel vol ys in herbenutte blikkieskosblikke geskink. Yster, blikkies, aluminium en hoenderdraad was duidelik die leitmotief.

Toe die modelle uitkom, was hul rokke en bloese van hoenderdraad. Onder die draad was hulle geklee in swart vullissakke.

Die parade het bestaan uit die kroegpersoneel, plaaswerkers en ’n paar mense wat teen daai tyd van die agtermiddag al lekker skapies aangeja het. In die hitte het die vertrek gevoel asof dit kantel.

Die vrou langs my het blykbaar haar kunsgebit by die huis vergeet, want toe sy lag, was dit net Liberace-pienk tandvleis. Die beligting was helderkleurige gloeilampe wat deur ou boontjieblikkies gedruk is en van die dak geswaai het.

Musiek het nie ontbreek nie: luide Japanse musiek met klokke en simbale. Die skrywer en dramaturg Guy Willoughby (ook intussen tot hoër diens opgeroep) was daar. Hy was duidelik aan die stuur van sake. Met ’n doktorsgraad oor die werk van Oscar Wilde, was hy soos sy onderwerp hoogs dramaties.

Toe die parade stop, moes ons hom almal, ’n sirkus van hoog- en laagtrappers, agtervolg. In die tuin is daar ’n gaatjie gegrawe en ’n klein boom is nader gebring. Die oorledene se as is in die opening gegooi en die boom is daarin toegespit.

Obskure digters se werke is voorgedra. Japanse musiek het nog in die skuur eenkant weergalm.

Wat ek opgelet het, was die twee bedeesde oumensies eenkant: plaasmense, boggelruggies, hoed in die hand. Hulle het in skril kontras met die res van die mense uitgestaan. Later toe hulle stil-stil in ’n klein bakkie daar wegry, het ek gehoor dit was sy ouers.

Ons het weer op die stoep gaan sit. Dit was bloedig warm, die dag het na grondpad geruik.

Meer oor:  Kisklere  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.