Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Onder ons strate sug duisende geraamtes

artefak s.nw. Voorwerp, veral uit die prehistoriese tyd, wat deur die mensehand vervaardig is. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Soms leef ons bolangs sonder om bewus te wees van die antieke lae van die verlede onder ons. Gaan kyk op die uitstekende webwerf Below the Surface oor wát in Amsterdam ontdek is toe hulle twee ou kanale gedreineer en opgegrawe het.

Volgens The Guardian het hulle gedurende die Noord-/Zuidlijn-projek, vir die bou van nuwe metrolyne, ongelooflike artefakte in die Damrak en Rokin gevind. Albei was eens besige waterweë gekoppel aan die Amstel-rivier.

Hulle het 700 000 objekte ontdek. Daar is lemme, gemaak van klip, wat uit 4200 tot 2000 v.C. dateer. Ook spykers uit die Middeleeue, ’n ou gasmasker en selfs kunsgebit. Soos argeoloë aanhou grawe het, tot 20 meter onder die oppervlak, het hulle verskillende grondlae van hierdie stad se geskiedenis oopgevlek.

In Kaapstad is daar ook geheime wat onder die oppervlak loer. In die boek Grave Encounters: Archaeology of the Burial Grounds, Green Point, South Africa, het verskeie argeoloë saamgewerk om ’n omvattende werk te skryf oor al die ou grafte onder die strate en geboue in Groenpunt en omtrekke.

Vandag is dié buurt se vele nuwe ontwikkelings vreeslik swierig, maar die inwoners weet waarskynlik min van wat onder hul deftige woonplekke se fondamente begrawe is: die geraamtes van duisende dooies wat tot voor die koloniale tydperk terugstrek.

Langs die Vasco da Gama, een van die Kaap se oudste kroeë, is daar in ’n stegie vele ou beendere gevind...

In Cobernstraat is daar 'n paar Laat-Steentydperk Khoekhoen-tombes gevind wat amper 1 000 jaar oud is. Hulle is regop onder die grond ingespit, soos die gebruik was, en daar is erdewerk en skilpaddoppe by die stoflike oorskot gevind.

Langs die Vasco da Gama, een van die Kaap se oudste kroeë, is daar in ’n stegie vele ou beendere gevind, asook net oorkant, op die terrein waar die weelderige Rockwell All Suite Hotel & Apartments staan. Die politikus Tony Yengeni het jare lank in hierdie ontwikkeling gewoon.

Die tipe dooies was ’n mengelmoes van uit die destydse sogenaamde laerklasse, soos armlastiges, prisoniers, slawe, Europese bouers, matrose en ook passasiers op verbygaande skepe. By Gallows Hill, waar die verkeersdepartement is, is oortreders in die openbaar gehang, soms gekruisig, aan die brand gesteek en die oorskot is vir weke daar gelos as afskrikmiddel.

Groenpunt was ’n desolate plek waar die reuk van die dood triestig en taai oor die vleie gehang het.

Van hierdie grafkuile was vlak en leeus en jakkalse het soms die varser kadawers opgediep en verorber. Daar is nog baie oorblyfsels daaronder.

'n Mens kan aanneem die deursnee klante by die duur Italiaanse eetplek, Il Leone Mastrantonio, in Cobernstraat, wat pinkie in die lug proe aan ’n pikante Melanzane alla Parmigiana, sal nie bewus wees van die stom rusplekke onder hul voete nie.

Ook nie Charlize Theron en haar ma, Gerda, wat ek eendag straataf by Beluga (ook 'n uithangplek van prins Harry en die Clintons) sien smul het nie.

Of het ek my verbeel daar was ’n skitterwit dynserige trilling wat soos ’n sug oor die gebied kom kop neerlê het?

Meer oor:  Kaapstad  |  Opgrawings  |  Woorde Wat Wip  |  Artefak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.