Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Ons sweef stil, soos spoke agter mure

maanontvangslaboratorium s.nw. Laboratorium waar maanstof ontleed word en waar teruggekeerde maanreisigers vir 'n tydperk in kwarantyn moet bly. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Liefste ma, ek skryf vir jou 'n brief, al lê jy vir oor die 20 jaar onder die sandkombers in die begraafplaas Kleinplasie, doer tussen Koekenaap en Lutzville. Daar waar dit so stil en sonder geselskap is.

In jul dodeakker is die bosse droog, die Namakwalandse blomme op die grafte verdor, want niemand kom praat meer met julle nie. Sing die sonbesies nog?

Hier aan dié kant van die wêreld het iets gebeur wat geen mens kon voorsien het nie. Julle is gewoond aan isolasie en geen kontak met die buitewêreld nie. Nou het dit ons getref.

Ons sweef soos spoke agter mure. Dit is asof ons van die maan af gekom het en in 'n maanontvangslaboratorium op aarde moet wag voor ons weer buite kan rondbeweeg.

'n Virus het oor die planeet versprei wat tot die skep van nuwe woorde gelei het: koronavirus-grendelstaat, Covid-19-pandemie, grendelkoors, grendelpendel (as jy vinnig iets buite moet gaan haal) en nog meer.

Daar is ook op Twitter soetsappige boodskappies soos: “Die #grendelstaat is ’n tyd om te leer van #naasteliefde.”

Kleinplasie

Ja, ek sien hoe jy jou oë rol en 'n glas vaaljapie nader trek.

Twitter? Dit is ’n lang storie, nog nie in julle tyd hier gewees nie. Onthou ma die telegram (en hoe die posman dit per fiets kom aflaai het)? Amper so iets, maar met 'n telegram kon jy nie baklei nie. Op Twitter is dit 'n slagveld.

Nou praat die mense van naasteliefde in hierdie tye, dan gaan kyk ek waaroor die inwoners in Seepunt en omtrekke op Facebook gal braak. Moenie vra oor Facebook nie, eendag as ons weer saam sit en tamatiebredie eet sal ek vertel.

Daar is 'n paar haweloses wat in dié buurt rondloop, onskadelike mense met sielkundige probleme. Die inwoners kla, hulle sê hul honde kan nie buite speel nie, maar die ontheemdes mag daar wees.

Die meeste hongerdun swerwers wat ek geken het op hul voorname is per bus verwyder na 'n plek ver weg uit die middestad, Strandfontein.

Nee, nie die vakansiedorp aan die Weskus waar ons gereeld gaan kuier het nie. Hierdie plek is windverwaai, koud en hulle is in 'n tipe kamp afgesonder.

Toe ek foto’s sien van hoe hulle in die busse gelaai word, het dit my hartseer gemaak. Dit het my herinner aan hoe die Jode aangekeer is en met treine na konsentrasiekampe vervoer is.

Met die ekonomie gaan dit sleg. Die jong man langs ons wat 'n agterkamer huur, het vir 'n jaar lank aan sy onderneming gewerk. Hy is 'n karate-instrukteur en het vooruit geboer. Binnekort kon hy sy eerste motor koop.

Oornag het sy onderneming gevou. Daar is ook by hom ingebreek. Die skelms het 'n sakkie wat hulle uit sy venster gegryp het in ons tuin laat val.

In dié sakkie was daar 'n paar koekies – en 'n strokie met hierdie woorde – Shop­rite: R45 declined.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.