Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Oordadige aspirasies kan mens uitknikker
Herman Lategan
Herman Lategan

nihilisme s.nw. Lewensbeskouing waarby alle menslike bestaan gesien word as sonder standhoudende betekenis. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Onlangs toe ’n gemeenskaplike vriendin dood is, skryf ’n vriend: “Ons val nou soos vlieë. Ek kan nie wag vir my beurt nie, ek is lankal keelvol.

“Daardie reis na die onbekende is eintlik maar die enigste opwindende een wat ek nog nie gedoen het nie.”

’n Mens kan empatie met sy siening hê, veral as ’n mens kyk na dit wat om ons gebeur. Die mensdom was en is steeds ’n wingerdluis op die aardbol.

Soos ’n vriendin sê: “Die natuur sal wel besluit wanneer hy genoeg gehad het en weer vir iets anders ’n plekkie gee.”

Moenie deur geluksoekers verlei word nie.

Die woord optimisme verskyn nie verniet in die Verklarende en vertalende woordeboek van psigiatriese versteurings nie.

’n Vliegtuig moet terugdraai na ’n lughawe sodat ’n joernalis in hegtenis geneem kan word.

Hy sal waarskynlik die doodstraf kry.

’n Vrou ter plaatse se lyk word in stukke gekap. Haar voet het in die Vaalrivier gedryf.

Die Zondo-kommissie met sy Darth Vader-stemming laat jou voel jy lewe in ’n distopiese rillerrolprent.

’n Oudminister se eksvrou vertel sy kan niks met R3 000 doen nie. Haar vorige man het haar gemaan om nie meer as R100 000 op ’n kredietkaart te bestee nie. ’n Handsak kan tot R40 000 kos, kla sy.

Darth Vader, filosoof.

Hy, met sy familiekierie wat ewe kordaat destyds op WhatsApp versprei is, het honderde pakke klere.

Arm Suid-Afrikaners moet met ’n R350-Covid-19-toelagie klaarkom. Een 5 kg-pak Ace-supermieliepap kos R49,99. Laat die beker van bitter ironie oor die naam ons nie verby gaan nie.

Tentdorpe vol ontheemdes groei daagliks, sprinkaanplae en hongersnood word vir Afrika deur insektoloë voorspel.

Die filosoof prof. David Benatar is ’n voorstander van antinatalisme. Hy skryf in sy boek Better Never to Have Been: The Harm of Coming into Existence dit is beter dat niemand ooit weer kinders het nie sodat ons kan uitsterf.

Uiteraard sal almal nie saamspeel nie, maar dié met ’n gewete sal wel. Jy doen kinders ’n onguns aan om hulle in hierdie wêreld van pyn en lyding te baar.

Hy skryf ons is altyd honger of dors, te warm of koud, moet toilet toe gaan, word siek en haat meestal ons werk. Die lys van frustrasies weeg swaarder as kortstondige, gelukkige oomblikke.

Dalk het hy ’n punt beet, maar selfs vir hierdie soms erg melancholiese rubriekskrywer klink dit nihilisties. Die paradoks is hy dra die boek aan sy ouers op.

Nietemin, die selfvoldaanheid van die mensdom is perkeloos. Daar is diegene wat reeds na die maan verwys as die “wêreld se agtste kontinent”.

Die Britse The Times berig dat die Europese ruimteagentskap planne beraam om die maan te besoek (koloniseer). Ruimtevaarders sal kan WhatsApp na die aarde toe en Netflix op die maan kyk.

In die woorde van Darth Vader: “Be careful not to choke on your aspirations.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Nihilisme  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.