Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Panasee by apteek ’n oorblyfsel van verlede

aptekersweer s.nw. Skertsende benaming vir die plotselinge intree van koue weer wanneer baie mense verkoue word en middeltjies by die apteker moet gaan koop. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Ek staan in een van Groenpunt, Seepunt en Kampsbaai se laaste oorblywende apteke, die Adelphi-apteek. Die eienaar, Perez Bloom, is oorspronklik van die Paarl. Hy praat perfekte Afrikaans.

Die meeste van die apteke wat destyds in hierdie buurte was, was in Joodse besit. Hymie werk saam met Perez en bedags staan hulle kordaat in beenwit oorjasse en tel pille, praat met dokters oor die telefoon en ken die meeste van die klante by hul naam.

Sewe dae ’n week is Perez hier, nou al oor die 70. Sy vrou vertel hy pak sy skoon klere elke aand reg vir die volgende dag.

As hy my sien, gooi hy sy hande in die lug en sê: “Wat nou weer!”

Hy spot net, omdat ek gedurig grappenderwys oor die pryse redekawel.

Eensaamheid bring baie van hulle na dié vriendelike plek, wat soos ’n tipiese apteek ruik: Lifebuoy-seep, Pepsodent-tandepasta, Vicks VapoRub en Colgate-sjampoe.

“R60 vir hierdie plasebo’s sodat jy en jou vrou weer op my onkoste op die perde kan dobbel,” skel ek. By hom staan ’n gereelde besoeker, ’n vrou wat met ’n sterk Ierse aksent praat. Geen mens kan uitmaak wat sy sê nie, maar ons knik ons koppe asof ons verstaan.

Daar is ’n stoel vir die oues van dae, wat soms hygend eers gaan sit om asem te skep. Eensaamheid bring baie van hulle na dié vriendelike plek, wat soos ’n tipiese apteek ruik: Lifebuoy-seep, Pepsodent-tandepasta, Vicks VapoRub en Colgate-sjampoe.

Pravin Gordhan het al een dag al hoesend hier ingestrompel vir ’n panasee teen griep (en waarskynlik die politiek).

As jy by die voordeur inkom, gaan daar ’n sein af: Pieng!

Mike Friedman voor sy apteek in Groenpunt in 1959. Mano’s se restaurant is vandag daar.

In ’n stadium was daar oor ’n dosyn apteke tussen Groenpunt en Kampsbaai, elk met sy eie karakter, die meeste nou weg. Die groot monolitiese supermarkte met bot aptekers het hulle verdring.

Mike Friedman was ’n bekende by die Groenpunt-apteek, waar Mano’s-restaurant nou staan. Dit het ’n Art Deco-vooraansig gehad en ’n man op ’n klein motorfiets kon jou medisyne vir jou tuis kom aflewer.

Mike was bekend vir sy humeur en as jy pille kom vra het terwyl hy oor etenstyd aan sy Coke en pastei gesmul het, het hy jou hard berispe. In die aande as hy toemaak, het hy en sy vriende whisky daar gedrink, rummy gespeel en oor perde gepraat.

Sy vrou, Frieda, het voor gehelp, sigaret in die hand. Sy was ’n Boerejood uit Namakwaland, maar het met ’n hogere Britse aksent gepraat omdat haar pa-hulle haar vir elokusielesse gestuur het toe sy na die “groot stad” gekom het as jong nooi.

Verder af was daar die TH Hughe’s-apteek, reeds daar van 1890 af, met sy blink gepolitoerde rooi stoep. Vandag is dit ’n bottoe, dooie, spookwit gebou.

Net die antieke ou posbus, nog ingebou in die muur, is ’n simbool van die nuttelose oorblyfsels – vermufte argiewe van die verlede – om ons.

As jy vandag ’n brief daarin sou gooi, sal niemand daarop antwoord nie.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Aptekersweer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.