Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Pandemie verryk toe wragtie die spreektaal

modemasker s.nw. mond-en-neusmasker, met ’n mooi ontwerp en gemaak van mooi materiaal, wat dien as modebykomstigheid: (Via taalbank.nl). – Woordeboek van Afrikaans Vandag.

Met die lente is dit geleë om na vars woorde te kyk. Die leksikograaf Jana Luther, mederedakteur van die WAT, se aanlyn woordeboek is ’n goeie begin.

Nuwe woorde, betekenisse, uitdrukkings, asook ouer vorme wat dalk elders in die slag gebly het, word in die Woordeboek van Afrikaans Vandag bewerk.

Dame Shirley Bassey het in publisiteitsfoto’s vir haar nuutste album, I Owe It All to You, in ’n swierige, goudkleurige rok en bypassende modemasker verskyn. Die Nederlanders, terloops, verwys na ’n mondkapje. Ook ’n lekker woord.

In hierdie tye van Covid-19 het daar verskeie woorde en uitdrukkings verskyn. Korona-angs, asook korona-apokalips, wat doemvoorstellings van die vernietigende maatskaplike en ekonomiese gevolge van ’n koronapandemie beteken.

Het jy dalk ’n rolletjie of twee ontwikkel oor hierdie tye? Dan het jy virusvetjies.

Dit is ’n informele, skertsende verwysing na gewig wat iemand aansit tydens ’n periode van inperking, omdat sommige in dié tyd meer as gewoonlik eet of minder oefening kry.

Het jy planne gemaak, maar moes noodgedwonge van alles afsien? Dan is jy gekorona.

Dit is deur die korona-epidemie in die wiele gery; deur korona gekelder: “My verjaardagpartytjie is gekorona” (Joan van Zyl, Facebook, 20 Maart 2020).

Deesdae word daar ook krities na nuwe denkwyses om gender gekyk. Die woord genderneutraal het betrekking tot mense in die algemeen, nié spesifiek mans of vroue nie.

Soos met hierdie sitaat: “Studente en personeel van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in Johannesburg het voortaan die opsie om hulself op ’n genderneutrale wyse te identifiseer deur die mx.-titel op administratiewe vorms te kies” (Christiaan du Plessis, Netwerk24, 25 Julie 2018).

Niebinêr hou weer onder meer verband met iemand wat met ’n genderidentiteit identifiseer wat nóg heeltemal manlik nóg heeltemal vroulik is, of wat dié op so ’n manier uitdruk.

Byvoorbeeld: “Die Amerikaner (die sanger Demi Lovato) het aangekondig dat ‘hulle’ nou as nie-binêr identifiseer. Lovato verkies die voornaamwoord ‘hulle’ om hulself te beskryf om daarmee die ‘vloeibaarheid wat ek voel in my geslagsuitdrukking die beste voor te stel’.

“Nie-binêr of genderqueer is ’n sambreelterm vir mense wat nie as manlik of vroulik identifiseer nie – identiteite wat buite die geslagsbinêr val” (Ross Michaels, Rapport, 23 Mei 2021).

’n Tussenmens is ook ’n niebinêre persoon. Al ooit gewonder waarvoor die afkorting LGBTQQIAAP staan? Hier is die verduideliking: Lesbies, gay, biseksueel, transgender, queer, “questioning”, interseksueel, “allied”, aseksueel, panseksueel (met vloeibare en wisselende genderidenteit) – gebruik om te verwys na persone en gemeenskappe wat die hele spektrum van menslike seksualiteit en gender insluit.

Die joernalis Christiaan Boonzaaier het dit so gebruik: “Elke episode (van die reeks) sal op ’n ander onderwerp fokus waarmee lede van die LGBTQQIAAP-gemeenskap in Suid-Afrika daagliks gekonfronteer word.” (Netwerk24, 15 Oktober 2020).

Aangesien dit lente is, kyk ons na die inskrywing lentemaan. Dit is die naam van die eerste volmaan in September. Volgens die kalender gaan Suid-Afrikaners hul lentemaan die nag van 21 September sien.

Geniet.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Gender  |  Modemasker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.