Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Purper van onthou in die donker van nou . . .
Herman Lategan
Herman Lategan

brasparty s.nw. Smulparty, waar oordadig geëet en gedrink en baie geraas word. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Daar was dae toe mense nog oor ’n etenstafel in groot groepe naby aan mekaar kon sit. Ons kon lag, laf wees en stories uitruil.

Mekaar druk en klapsoene gee. Sonder maskers. In restaurante waar net die beste wyn bedien is, kon ons drink. Ag, of sommer by die Spur.

Jy onthou noenmale onder priële met die son wat glase witwyn skrams vang en die helder kleur van die wyn weerkaats. Almal lag, terwyl die kinders buite rondhardloop en in die swembad spring.

Daar is die reuk van braaivleis, ’n hond wat sy kop op jou been kom lê. Jy streel dit ingedagte. Haar stert swaai. Daar is waatlemoen. Die geure van kleintyd.

Jy sien tuine vol kleur met purper en geel blomme in volle bloei. Op ’n ander besoek buite Bettysbaai sit jy met vriende wat jy al vir dekades ken.

Hul huis omring met fynbos, die soel luglaag oral. Twee mense begin spontaan sing. ’n Wilde diertjie loer deur ’n struik en hardloop dan die veld in en verdwyn.

Iemand kom sit naby jou en vra jou hoe dit met jou gaan. Die persoon steek ’n sigaret aan en waai die rook uit jou gesig.

Miskien kla jy oor ditjies en datjies, ’n vakansie wat jy moes uitstel omdat daar te veel werk is. Dalk het jy ’n vliegtuig verpas.

Jy sit by kroegtoonbanke waar die braspartytjies rof kan raak. Jou hart voel goed. Die lewe strek voor jou uit.

Sondae is soms ’n las, want jy moet vir jou bejaarde ma of pa in die aftreeoord gaan kuier. Die kos daar smaak vaal, die eetkamer is neerdrukkend.

Op ’n stadium kon die ouer nog uitgaan, maar pa of ma se gesondheid is nou te swak. Ai, dink jy, ’n mens moet eintlik nie mor nie, maar jou besoeke raak tog minder.

Op ’n dag word jy wakker. Jou verswakte ouer lê alleen in ’n hospitaal en sterf. Jy mag nie besoek aflê nie.

Miskien het die dokter ’n tabletrekenaar waarop jy met Zoom kan groet. Jy sien jou ouer, sweepdun en hy of sy antwoord nie terug nie.

Almal beweeg rond met maskers aan. Vele van die eetplekke waar jy gekuier het, het toegemaak. Besighede van oor die 200 jaar stort in duie.

Onder die halfgeboude brûe in Kaapstad is klein tente gemaak van inkopiesakke opgeslaan. Langs die see hang mense hul wasgoed op die reëlings, omdat vele snags daar slaap. Die karige klere wapper in die wind.

Dan dink jy aan die lirieke in Freddie Mercury se laaste video, “These Are The Days Of Our Lives”: “Sometimes I get to feeling / I was back in the old days, long ago / When we were kids, when we were young / Things seemed so perfect, you know? / The days were endless, we were crazy, we were young / The sun was always shining, we just lived for fun.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.