Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Randeiers verdien mos ook agting

maninggal ww., het gemaninggal. (i.d. taal v.d. Kaapse Maleiers) Sterf. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

’n Facebook-vriendin, Christa Hahn, stuur anderdag ’n Kersgeskenk uit Graaff-Reinet aan. Dit is die skrywer I.D. du Plessis se boek Aantekeninge uit Tuynstraat, wat in 1975 verskyn het.

Tuynstraat is die ou naam van Koningin Victoriastraat, waar hy lank aan die bopunt gewoon het. Hy noem besonderse woorde uit die Bo-Kaap wat deel van ons geskiedenis is, soos goena-goena (goëlery) en doekoen (medisynmeester, towenaar).

Dit is egter die mense uit ’n vervloë era in die hawestad wat net so fassinerend is. Net ná die Eerste Wêreldoorlog was die Kaap, ook soos vandag, vol cranks and crackpots, soos die Engelse hulle noem.

Hy skryf oor ’n Russiese kruiedokter: “[H]y was ’n vroeë bergie met lang hare en ’n yslike baard, wat op selfs die warmste dag met sy lang oorjas en kamaste (beenbedekking van leer) aan in die Kompanjiestuin gesien kon word.”

’n Vriendin van Du Plessis, ene Ekaterina Vareshine, het eendag in Russies met hom ’n lang gesprek gevoer. Sy was verbyster deur die omvang van sy kennis, lewensaanvaarding en sprankelende humorsin.

“Maar waarom die hange van Tafelberg hierdie Rus se tuiste geword het, was vir haar, soos vir almal, ’n raaisel.”

Dan was daar die harpspeler wat Kapenaars in die 1930’s voor die bioskope op sypaadjies leer ken het.

“ ’n Stil patetiese figuur wat ’n rukkie vertoef het om ’n paar stukke te speel en nederige bydraes in sy hoed te ontvang.”

Hy was ’n Italianer. Sy naam was Carlo Lotièrzo. Met die koms van die spreekprent was die dae van die individuele musikus getel. Hy het straatmusikant geword.

’n Mens wonder of Carlo, as die Kaap se koue motreën geval het, sy nat hoed opgetel en iewers na ’n ou bôrdinghuis verkas het.

Ook in die Laan was daar ’n Indiër-goëlaar wat op die regte sielkundige oomblik ’n kapel met sy musiek uit sy mandjie kon lok. Skoolkinders was glo gaande oor hom en gedurende die somermaande was Kaapstad vir die jongspan ondenkbaar sonder “Cape Town Charlie”.

Du Plessis vra: “En hoeveel Kapenaars onthou die geheimsinnige vrou, in swart geklee, met swart kouse (later meer gestop as heel), swart sambreel en haar bondeltjie goed in ’n tousakkie (haar enigste besittings?), wat soggens gereeld die Laan afgekom het, met harde oë wat strak voor haar gestaar het asof haar medemens (ja, ook die hele wêreld) haar nie kon skeel nie? ’n Mens kon haar by kunsuitstallings en musiekuitvoerings sien. Watter skok sou hierdie mens so diep tot haarself laat inkeer?”

Dan was daar die gesiene vrou uit die suidelike voorstede wat in alle opsigte netjies versorg was, deftig geklee, imposante diamantringe. Maar haar bloese was gereeld (self?) aan flarde geskeur, so opvallend, dit het aller aandag afgedwing. Sy is gereeld by die ou Markham’s Restaurant gesien, sluit hy af, “waar hulle haar geken en bedien het asof sy niks geskort het nie.”

Mooi so, randeiers verdien mos ook agting.

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.