Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Rooivelle steur hulle nie aan Maria-kind
Herman Lategan
Herman Lategan

jobbel s.nw. Deining, golwing, swelling op water, veral op die see. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Ek het oor die internet op ’n doktorale proefskrif oor Afrikaanse visserstaal afgekom. Wat ’n ontdekking van interessante woorde en sêdinge.

Dit is deur L.R. Heiberg geskryf en die datum is Desember 1957. Dit beslaan 425 bladsye en ek noem enkele voorbeelde.

Heiberg skryf dit het twee jaar se veldwerk geneem. Dit fokus op die gebied tussen Port Nolloth en Jeffreysbaai. By elk van die betrokke vissersgemeenskappe het Heiberg ’n tydperk vertoef en saam gaan visvang.

’n Skatkis, wat die taal verryk, is ontdek.

Wat is ’n “rooivelletjie”? ’n Kreef. “Wil die rooivelletjies dan nie bietjie kom inklim nie?” sal ’n visserman sê.

As die vis nie wou byt nie, bid een van hulle: “Dankie, my ou Heretjie, maar gee maar vir jou ou bruin mensie nog so drietjies of viertjies.”

Toe die blou dam se water rof raak, vertel ’n ander: “En in die blanke dode stilte kom skielik ’n see en hy keer ons om.”

Dan is daar eiesoortige uitdrukkings soos: “Ons het gedans dat hulle komberse bring om ons af te droog.”

Ingeval Ma se aandete te veel van ’n pepersmaak gehad het, dan sê jy: “Lyk my Ma het sommer die peperboom in die kos gegooi.”

As ’n familie te groot word, word daar gevra: “Kry julle darem nog name vir kinders?” Kostelik.

Heiberg skryf: “Onsag, vrees, skugterheid t.o.v. dit waaroor gepraat word, is dikwels die rede waarom daar ‘om’ ’n begrip gepraat word. In werklikheid word dergelike begrippe dan verbloem deur die omskrywing.”

As die weer “onrustig” raak voorspel dit dalk die dood. “Maria se kind raas weer in die wolke vandag,” sal iemand sê en bekommerd kyk na bo. Dit beteken daar is donderweer.

“Ons kom nog aangejaag, maar toe het hy al verstik in die water.” Of: “Nog eenmaal het sy kop bo water gekom en toe het hy weggebly.”

Dit grens aan die poëtiese: “En ’n groot see het gekom en hy het die bakkie (skuit) met die drie mans toegemaak. Nooit g? woord of taal weer nie, net die planke van die bakkie het weer uitgespoel.”

Dit is eenvoudige woorde, maar met dié gestroopte beskrywings roer dit jou. Jy sien die “ribbes” van die boot wat op die strand uitspoel, jy voel seer vir die verslae familie, wat saamdrom by planke.

Al wat van hul mans en pa’s oorbly: Boot se karkas. 'n Verrinneweerde “bakkie”. Het hulle maar na “Maria se kind” geluister, dan het die branders hulle nie kom haal nie.

Nog oor die dood: “Hy’t die soort siekte gehad wat ’n mens altyd maerder maak – jou longe klaarmaak. Só het hy maerder geword en maerder, later nie meer mens nie – béén, vel, asem.”

Hierdie man het waarskynlik van tering weggekwyn. Met die treffende laaste drie woorde voel jy hoe hy ophou asemhaal.

Hoe soepel beweeg hul woorde deur ’n magdom van emosies; woorde wat flink soos blink visse tussen branders swem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.