Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Rose vir ’n pontifikale kunstenaar met ’n hart

pontifikaal b.nw. Kenmerkend van 'n biskop, plegtig of waardig: Die verhoogkunstenaar is so pontifikaal soos 'n biskop. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Einde Desember is dit die verjaardag van een van die vermaaklikheidswêreld se mees legendariese sterre, Marlene Dietrich.

Haar stem was ’n rokerige laatnag-een, die gesig amper androgeen, vol welt­schmerz. Daar was meer as net ’n titsel dekadensie van die Weimar-republiek se donker kabaretklubs aan haar wese.

Sy het ’n verbinding met Suid-Afrika gehad. Dietrich het twee keer hier opgetree, in 1965 en 1966. Hoe het dit gebeur?

Ons skuif na Parys, meer spesifiek na Avenue Montaigne 12. Dit is reënerig.

’n Jong man (20) van Pinelands sit buite haar woonstelblok. Hy sit en sit. Kyk op na haar venster. Dietrich raak nuuskierig en gaan ondertoe.

“Wat maak jy hier?” vra sy.

“My naam is Pieter Toerien, ek kom al die pad uit Suid-Afrika.”

“Kom binne,” sê sy.

Net daar oortuig die jeugdige impresario haar om hier te kom optree.

New York, 1967: Marlene Dietrich word oorval deur aanhangers. Foto: Getty Images

’n Ander jongeling van Pinelands, ene Pieter-Dirk Uys, word tydens haar vertonings in die Alhambra-teater deur Toerien opgekommandeer om elke aand voor te sit. As dit klaar is, moes hy vir haar ’n bos rose gee.

Hy het haar eendag tydens ’n repetisie gaan waarneem. Sy was op haar knieë besig om die verhoog self skoon te skrop. ’n Perfeksionis.

“Die laaste aand sit ek weer voor,” vertel Uys. “Hierdie keer wou ek met haar praat. Ek het by die verhoog opgesukkel, maar sy is reeds agter die gordyn weg.

“Ek het haar met ’n kloppende hart agtervolg. Sy het na my gedraai, spelend gevra: ‘What is this?’

“ ‘Rose vir jou,’ het ek geantwoord.

“ ‘O, in daai geval gaan maak ons saam ’n buiging.’ Ek het vir haar die blomme gegee. Sy het my voor almal op die wang gesoen.”

Die joernalis Amanda Botha, ook toe in haar jeug, vertel sy het pas by Die Burger begin werk. Dietrich wou geen onderhoude toestaan nie.

“Kort ná haar aankoms, gaan ek na Stuttafords. Op met die roltrap sien ek sy staan by die Estée Lauder-toonbank om grimering te koop. Ek is met die volgende roltrap af en het langs haar gaan staan.

“Ek was duidelik net geïnteresseerd om langs haar te staan. Later vra sy: ‘Kid, what do you want?’

“Ek vertel haar ek is ’n beginnerjoernalis. Ek was net geïnteresseerd om by haar te staan en te kyk wat sy koop.

“Sy nooi my toe om later daardie middag na die Mount Nelson-hotel te kom. Toe ek daar aankom, sê sy: ‘Kid, I’ll talk to you.’

“Ek het notas geneem. As ek senuweeagtig voorgekom het, het sy gesê: ‘Kid, just relax, I’m in no hurry.’

“Ek het haar in 1971 in haar woonstel in Parys besoek en met getekende plate-omslae huis toe gekom.”

Die laaste dekade van haar lewe het Dietrich as bedlêende kluisenaar in Parys gewoon.

Toe sy op 90 sterf, het pres. François Mitterrand blomme op haar kis geplaas. Rose.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.