Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Sangers, hou julle eerder by jul ‘lees’
Herman Lategan

uilspieël s.nw. Persoon wat verspotte dinge doen of sê. – Etimologiewoordeboek van Afrikaans (G.J. van Wyk)

Hoe saai sal ons kulturele wêreld wees sonder die pittighede wat sommige sangers kwytraak. Met simpatie word daar verneem Karlien van Jaarsveld is positief vir Covid-19 getoets.

Sy het waardevolle raad vol deernis gedeel met haar aanhangers op haar Instagram-blad terwyl een van die kinders in die agtergrond gehoor kan word. Dit sorg vir daai titsel outentieke familievideo-gevoel wat die hart warm laat klop.

In 'n berig oor hoe sy haar tyd in kwarantyn deurbring, vertel haar ma, Ronel Brink, sy bestee die meeste daarvan aan Bybelstudie. Sy vertel haar dogter lees nie tydskrifte of boeke nie, dit is dus ’n ideale tyd om Bybel te lees.

’n Mens wil in hierdie dae nie soos ’n ywersugtige kripbyter klink nie, want ons moet saam-saam kaalvoet oor die berge. Tog was dit nie nodig om ons te vertel Karlien lees nie boeke nie. Heeltemal oorbodig.

Dit is duidelik as ’n mens na die banale lirieke van haar liedjies luister. Hier is ’n voorsmakie van “Rooilipsoene”: “Dis in jou lag / Dis in jou kyk vir my / Dis in jou hallo / En hoe jy praat met my / Dis in jou oë / En op jou lippe”. Ai toggie.

Chris Chameleon

Dan is daar Chris Chameleon wat ’n ruk terug drama veroorsaak het toe hy glo met ironie na Bles Bridges as sy pa verwys het. In ’n 44 minuut-video het hy daarna verduidelik wat sy eintlike plan was met daardie stelling.

In dié video voel die kyker so ongemaklik dit is asof ’n kadawer met ’n krulsnor uit die dodehuis momenteel wakker word om jou te vertel watter hel daar aan die ander kant vir jou wag.

In ’n ander stadium het hy op Twitter na ’n redakteur as “mr fagott” (sic) verwys. Daardie vure slaan hy toe dood deur te sê dié persoon se van in Frans beteken fagot, soos in die musiekinstrument.

Dan is daar die video, gedateer 13 April, waarin hy sarkasties gekskeer met verpleegsters net toe Covid-19 ernstig raak. Daar is ook grillerige seksuele ondertone: “I like nurses. I once had a girlfriend who was a nurse, and she was very fine,” sê hy.

Daarna looi hy hulle omdat hy aanstoot neem oor die oormatige verering van hierdie mense tydens die pandemie. Sy deurmekaarpratery neem 18 minute.

In ’n onlangse Facebook-plasing skryf hy (verbatim): “ ’n Jong man in ons distrik het oor die naweek sy lewe geneem. Media24 draai sedertien (sic) soos honger aasvoëls oor sy familie en lede van die gemeenskap, gierig op soek na sensasie vir die toiletpapier wat hulle as ‘nuus’ verkoop. intussen bly hulle te lafhartig om ware nasionle (sic) brandpunte aan te spreek. Hulle bly hardnekkig lakeie van die onbekwame diewe en aspirant-outokrate wat die land regeer en bedien hulle leserspubliek met die sirkus van leë afleiding deur wreedverworwe sensasie.”

As twakpraat ’n siekte was. Skoenmaker, hou jou by jou lees. (Karlien, no pun intended.)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.