Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Skielik onthou ons dié 2 sakmense

duwweltjie s.nw. Dubbeltjiedoring. Moontlik vervorm uit duiweltjie, omdat die dubbele dorings van die plant aan die vurk van die duiwel herinner. – Etimologiewoordeboek van Afrikaans (G.J. van Wyk et al).

Soms as jou gedagtes nael, steek dit vas by mense wat jy eenmaal geken het. Dit is asof jy onverwags kaalvoet op ’n duwweltjie trap.

Dan moet jy hinkepink op een been gaan stilstaan, hom uit jou voet uittrek. Jou konsentrasie verskerp op dié oomblik.

Dr. Heinz Mödler het gevra: “Onthou jy hulle?” Baie mense op die Facebook-blad Cape Town Down Memory Lane het na vore gekom, elk met 'n staaltjie.

Hulle was as die sakmense in Kaapstad bekend. In die 1970’s en ’80’s kon jy hulle oor die hele Skiereiland sien. Twee pragtige jong mense, ’n man en vrou, sibbe.

Albei met blou oë en blonde hare. Hy het soos ’n voorstelling van ’n wit Christus gelyk.

Hulle het lang goiinggewade gedra, amper soos togas. Daar was ’n misterie rondom hulle, altyd met mekaar diep in gesprek.

Ook het hulle nooit gebedel nie. As die man vir jou iets wou sê, het hy dit gesingpraat. ’n Mens kon hulle kaalvoet sien loop in Adderleystraat, Seepunt, Plumstead, Kalkbaai, baie ander plekke.

Deesdae in die Kaap sien jy ook jong sakmense rondloop. Ek het die een gevra of hy hulle geken of van geweet het? Hy het na my gekyk asof ek geseënd was. Met verwondering.

Op hul koppe was driehoekvormige hoedens wat hulle moes balanseer, gemaak van lappe of riete. Wat bekend is, is hul name: Giesbert en Dagmar Westphal. Hulle is ook Naturalia en Nanuska genoem.

Daar word beweer hul ryk pa het hulle verban uit Duitsland, Denemarke, Swede, selfs die ou Suidwes-Afrika. Niemand is juis seker uit watter land nie, soos spoke sonder heimat het hulle deur die stad se strate gesweef.

“Hulle het ‘stadiums’ gehad,” sê die maatskaplike werker Elzabé Durr.

“ ’n Oliestadium wanneer hulle olie aan hul bene gesmeer het, ’n sjokolade-en-Coca-Cola-een wanneer dit al was wat
hulle geëet het. Ek glo dit was ’n geval van folie à deux, ’n delusionele toestand deur twee mense gedeel.”

Iemand wat hulle ’n geleentheid in sy motor gegee het, vertel hulle het uieringe op die agtersitplek sit en eet.

Barry Viljoen sê: “As jy langs hulle gaan sit het, het hulle opgestaan. Sodra jy opstaan, sit hulle.” In ’n stadium het hulle ’n hond by hulle gehad.

“In 1972 het hulle by my in Peperstraat (waar Mama Africa nou is) gewoon,” sê Jack Hartland. “Hulle was rondom 18 en 19. Geen dwelms was betrokke nie. Hulle het ’n vegetariese dieet gevolg. Ook was hulle mal oor my bad en om hul blonde hare te versorg en was.

“Deesdae in die Kaap sien jy ook jong sakmense rondloop. Ek het die een gevra of hy hulle geken of van geweet het? Hy het na my gekyk asof ek geseënd was. Met verwondering.” Dissipels dus.

Sy is later dood, niemand weet waaraan nie. Toe verdwyn hy. Vandag is slegs ’n ou verbleikte, geskeurde koerantuitknipsel, wat in die kunstenaar John Kramer se besit is, wat van die twee oorbly. En vir ’n wyle het hulle tog soos duwweltjies vir ons laat stilstaan om iets te voel.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Duwweltjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.