Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Skrywers soms rare spesies, vra Boerneef . . .

bullebak s.nw. Nors, onbeleefde vent. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Skrywers kan soms rare spesies wees. Hardkoppig, opvlieënd en dan weer sagmoedig en huilerig. Ernest Hemingway se persona was een van ’n macho man wat gehou het van bulgevegte, jag en visvang.

Tog het hy oor die dosyn katte gehad en bitterlik gehuil as iets met een moet oorkom. Hy het hulle “purr factories” en“love sponges” genoem.

Die knorrige William Burroughs het per ongeluk sy “vrou” (hulle was nooit getroud nie), Joan Vollmer, doodgeskiet. Hulle was groot dwelmgebruikers en moes op ’n stadium Mexiko toe vlug omdat die polisie agter hulle aan was. Hulle was dronk in ’n kroeg toe sy ’n glas op haar kop gesit het wat hy probeer raakskiet het. Burroughs het te laag gemik en sy is dadelik dood. Sy beste werk het ná haar dood verskyn omdat haar afsterwe vir die res van sy lewe by hom gespook het.

Wat my hieraan laat dink het, die aweregsheid van skrywers, is toe ek onthou iemand het my vertel hoe die digter Peter Blum, nadat hy Londen toe is, gereeld lang en katterige briewe aan mense hier geskryf het – op toiletpapier.

Gedink Louis Leipoldt was ’n vredeliewende kêrel? I.D. du Plessis skryf in Aantekeninge uit Tuynstraat: “By elke ontmoeting kon ’n mens die een of ander skokkende bewering te wagte wees.”

Leipoldt het byvoorbeeld soms sulke bisarre en vreemde goed kwytgeraak, mense se monde het oopgehang.

“In 1927,” skryf Du Plessis, “het ons albei kamers in Grey’s Pass (aan die bopunt van Koningin Victoriastraat) gehad, in die gebou waar die Italiaanse ambassade nou gevestig is. Sy leesstof het hy by die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek (onder in die straat) gaan haal en in ’n Gladstone-handsak huis toe gebring.

“Leipoldt met sy bruin handsak was in daardie dae ’n bekende figuur op straat. Maar wee die bewonderende vreemdeling wat sommer ’n praatjie wou aanknoop! Vir sulke mense het hy geen genade getoon nie, om daardeur die naam van bullebak te kry wat hy eintlik nie verdien het nie.”

Du Plessis vertel van ’n deftige aandete in Bo-Oranjezicht: “Soos ’n mens in die omstandighede kon voorspel, het hy by die eerste beste geleentheid weer sy skokmetode gebruik.

“ ’n Landwye bekende, ’n hoogs eerbiedwaardige persoon, se naam is deur een van die gaste genoem. Hy was geskok om te sien hoe siek die man lyk.

“Leipoldt het dadelik toegeslaan: ‘Maar natuurlik – hoe kan hy anders lyk?’ In onomwonde taal het hy sy rede vir die agteruitgang gegee, hoogs onwaarskynlik, maar skokkend genoeg.”

Verder het Leipoldt daarop aangedring dat hy dag en nag in Duits dink, in Engels skryf, en elke gedig van hom dan in Afrikaans vertaal het.

Boerneef, wat maar kort van draad was, het vir hom gevra: “Wil u sê dat ’n vers soos ‘ ’n Handvol gruis uit die Hantam’ eers in Engels geskryf is?”

“Ja,” antwoord hy.

“En ‘Boggom en Voertsek’?”

“Ja,” sê hy.

“Dr. Leipoldt, neem my dit nie kwalik nie, maar ek kán dit net nie aanneem nie!”

Toemaar Boerneef, ons ook nie, maar “’n Handvol gruis en gedroogde blare Vertel soveel van die wonderjare”.

Meer oor:  Ernest Hemingway  |  Boerneef  |  Bullebak  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.