Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Slaperige Vishoek kan darem koekeloer

knikkebol ww. 'n Sittende persoon wat met die kop onwillekeurig knik. Dit op en neer beweeg, van vaak wees, vermoeidheid, swakte of ouderdom. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

As jy voel die dag proe na ou verlepte kool of flou tee, dan bevind jy jou in Vishoek. Elke woonbuurt het sy geite, maar hier leef die woorde vaal, vaak en vervalle hul volle potensiaal uit.

Eintlik kan jy dié buurt glad nie ernstig opneem nie, want elke keer as hierdie rubriekskrywer een keer ’n maand daar vir ’n vriendin gaan kuier, kom daar ’n effense glimlag oor die gelaat.

Vishoek is metafories soos jou een oom wat liefdevol en dierbaar is, maar ná ’n paar knertsies sjerrie raak hy kopknikkend by die Sondag-noenmaal aan die slaap.

Ry jy dié buurt binne sien jy die klerewinkel AP Jones. Hulle is al hier vanaf 1928.

Die klere lyk nog steeds dieselfde. Geen mens kan lewend daarin gesien word nie, maar dit is duidelik mense koop daar, want dié plek het ’n lang asem.

Waar daai fashionistas wat daar koop uithang, weet niemand nie. Kruip seker weg.

Daar is strawwe kompetisie, ’n plek met die naam Hong Kong Fashions en dan The Wool Boutique. Laasgenoemde doen goed, want al wat plaaslike tannie of queen is, is aan’t hekel en brei. Die winter is alewig op pad.

Die res van Vishoek se hoofstraat is ’n bedroefdheid. Melancholie en eensaamheid word deur die meedoënlose soutseewind soos papiere rondgewaai. Branderplankryers wat in die 1970’s jonk en viriel was, loop nou verslae (van jare se dagga) en doelloos rond. Die ruggies krom, die gesigte flenters van jare se sonbrand.

Bejaarde honde, siebies met pelse soos ou geroeste staalwol, staan en blaf. Die stertjies waai, maar hulle het geen idee waar hulle is nie.

Soms sien jy op ’n Sondag ’n pragtige swartkleurige Ford Cortina GT, uit 1964. Dit het rooi sitplekke en staan naby die kroeg Papa Jo’s.

Hier hang die boorlinge uit. ’n Vrou met ’n gesig so bleek soos hoendervleis is ’n gereelde besoeker.

Haar storie is ’n kêrel met ’n sexy kuif en ’n James Dean-houding het haar jare terug gelos. Toe word sy maar ’n alkoholis.

Die vrou agter die toonbank ruk haar op as jy vir ’n dop vra. Sy ignoreer jou. Dan pers sy haar lippe saam. Haar gesig raak rooi.

“Yes!” skree sy.

Van daar gaan ’n mens vort tot by ’n sirkel. Draai regs.

Daarna is dit die een kerk ná die ander. Dit is immers die voorstad wat die verkoop van drank tot onlangs toe nog verbied het.

Om by die vriendin uit te kom, ry jy verby die Valsbaai-hospitaal. Hierdie gebou lyk soos iets uit die rolprent The Shining. Enige oomblik gaan Jack Nicholson met ’n byl daar uithardloop.

Sy wag gewoonlik op die sypaadjie. Die hele straat gaap van lomerigheid.

As die motor stop sien jy hoe die gordyne van elke huisie effens oopgemaak word. Daar is baie oë wat vir jou loer.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Knikkebol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.