Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: ‘Sluipende irritasie’ is later net onsigbaar

sluippatrollie s.nw. Patrollie uitgestuur om ’n vyand stilletjies te bespied. – “Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal”.

Hulle kom stil en onverwags, amper soos ’n lid van 'n sluippatrollie. As jy weer sien, staan hulle agter, voor of langs jou.

Jou gedagtes is op ’n ander plek. Irritasie seil by die agterdeur in.

Jy sien – soos die wieke van Don Quichot se windmeule – hul arms wat swaai en waai. Hulle beduie agteruit, skuins, of vorentoe.

Dit is die informele karwag. Die persoon wat die meeste motorbestuurders liewer sou wou sien vlug soos 'n rietrot vlei se kant toe.

Weg, skoert, jou sukkelaar, ek wil nie na jou kyk nie. Het ook nie vir jou hulp gevra nie.

Dit is Maandagaand. Ek staan met een van “hulle” buite Giovanni’s se bekende delikatessen in Groenpunt. Ontmoet vir Gary van Zyl (52).

Sy skof is van 17:00 tot lank ná middernag, sewe dae ’n week, totdat die laaste gaste by een van die vele eetplekke na hul motors steier.

Hy help met die parkering en om die grypdiewe weg te hou. Ook om bejaarde mense hul inkopies te help dra.

Gary van Zyl

Hy dra verbande om sy voet. ’n Spinnekop het hom gebyt. Dit is aandskemering toe ek saam met hom buite staan en dit is koud.

“Kyk,” sê hy.

Dit is ’n reënboog, want ’n ligte mot­reën sak uit, net voordat die nag die laaste strale van die son se ritssluiter toetrek. ’n Reënboog, dink ek.

Ek sou dit nie eens raakgesien het indien ek nie nou hier op straat gestaan het nie. Die motors arriveer.

Die parkeerplekke is min, die voertuie groot en blink. Om ’n Hummer, Land Rover of Jeep in ’n piepklein plekkie in te druk, wil nogal gedoen wees.

Die bestuurders stoei met die stuurwiele, raas met die kinders op die agtersitplek, rondomtalie en draai hul nekke verwoed om, soos kwaai uile wat takke agter hulle hoor ritsel.

Dít is wanneer Gary inspring en help. As die bestuurders uitgeput uitklim met hul emosielose Botox-gesigte, ignoreer hulle hom.

Reguit na die deli vir heerlike hamme, kase, wyne en varsgebakte brode.

Hoekom dan nou nie?

Hulle werk hard en hou die ekonomie aan die klop. Dit is tog duidelik aan die goue koetse waarin hulle met trompetgeskal aankom.

As hulle met sakke en sakke kruideniersware terugkeer, bestaan Gary steeds nie. Hy is ’n spook. Terwyl ek daar staan, ry vyf mense weg sonder om met hom oogkontak te maak.

Die deure word toegeslaan. Daar word vinnig weggetrek. Hy vertel trots hy het nog nooit by mense gebedel nie.

Sy inkomste per skof is nagenoeg R150. Hy is al vier jaar lank ’n karwag.

Toe hy in sy vroeë tienerjare was, het sy pa selfmoord gepleeg.

Dit is toe hy strate toe is.

Die hoogtepunt vir Gary is soggens, as ek hom in Gran’s Coffee Shoppe sien. Ontbyt vir ’n koning: Tee, botterbroodjies, gerasperde kaas en konfyt.

Met elke happie, as hy sy oë toemaak, sien hy die reënboog.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.