Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Sommige het die Rietbok hoor fluit

rietbok s.nw. ’n Wildsbok wat in rietpolle naby riviere aangetref word. Wanneer hy skrik, maak hy ’n skerp fluitgeluid. Hy sal met skommelende bewegings weghardloop, kwasstert in die lug, en sy wit onderkant wys. –
Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA).

Op Maandag 13 Maart 1967, 50 jaar gelede, het vlug SAL 406, ’n Viscount 806, Oos-Londen genader en oor die see verdwyn. Die naam van die vliegtuig met 25 mense aan boord was, ironies, die Rietbok, ’n dier wat naby water wei.

'n Jaar later, op 20 April 1968, sal 'n Boeing 707 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, vlug 228, tydens opstyging vanaf Windhoek val, met 123 mense wat sterf.

Meer onlangs in menseheugenis is die Helderberg, SAL-vlug 295, ’n Boeing 747, wat op 28 November 30 jaar gelede naby Mauritius brandend na benede in die donker see geval het. Al 140 passasiers is dood.

Baie is al oor laasgenoemde vliegtuig bespiegel, maar die Rietbok se verdwyning is ’n halfeeu later steeds ’n misterie. Daar word vermoed die vlieënier, kaptein Gordon Benjamin Lipawsky, het ’n hartaanval gekry.

Regter Cecil Margo het bevind die vlerke het losgekom. ’n Ooggetuie het vertel toe die vliegtuig val het dit soos ’n donderslag geklink.

Daar is diegene wat glo die vliegtuig is vernietig omdat die waarnemende hoof van die Broederbond, prof. J.P. Bruwer, op die vliegtuig was, asook Audrey Rosen­thal, wat die ANC goedgesind was. Bruwer het hom teen apartheid uitgespreek.

Genl. Hendrik van den Bergh, destyds hoof van die veiligheidspolisie en later van die Buro vir Staatsveiligheid, se naam as die onsigbare hand agter die raaisel is genoem.

Staaltjies wat mense vandag nog vertel maak dit net interessanter. Die Burger skryf ’n dag ná die ongeluk 21 lyke is uit die see gehaal. LitNet se Naomi Bruwer, kleindogter van prof. Bruwer, vertel: “Die volgende dag is berig dat dit verkeerd gerapporteer is, geen lyke is (kwansuis) ooit gevind nie.”

Dr. Johann van der Merwe sê: “Ek onthou dit goed. Maande se spekulasie, maar soos met die Mosambiekse president Samora Machel, wie se vliegtuig uit die lug ‘geval’ het, met ’n gapende vuurpylwond in die sypaneel, is dit uiteindelik as ’n ‘ongeluk’ wegverduidelik.”

Daar is ander wat vermoed 'n fratsbrander het die vliegtuig dalk uit die lug verswelg. Tony Rickelton, oudtegnikus by die SAL, sweer van die wrakstukke was in ’n pakkamer by die ou Jan Smuts-lughawe gestoor. Die probleem met daardie stelling is nie een van die agtergeblewenes het ooit hierdie stukke gesien of hul geliefdes uitgeken nie.

Albé Grobbelaar noem ’n lugwaardin op hierdie vlug was sy st. 2-juffrou, mev. Kitty Zietsman, se suster.

Hy het sy onderwyseres onlangs in Hermanus in die hospitaal besoek en hulle het oor die Rietbok gepraat.

“Tot vandag toe vermoed sy en haar familie daar was vuil spel betrokke.”

En so bly hierdie verhaal tot vandag toe gehul in duisterheid en verdeel in twee kampe. Dié wat sweer hulle kon die bok metafories hoor fluit, en ander wat sê nee, daar is net ’n dawerende stilte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.