Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Stap en kyk om jou rond – en jy vind hoop

lanterfanter ww. Die tyd lui verwyl deur veral rond te loop. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Dit is 'n Saterdagoggend. Ek sit agter my rekenaar en werk.

In die agtergrond is die radionuus weer suiwer distopiese wanhoop. 'n Eksisten­siële vakuum vou voor my oop.

Die skryfwerk op die rekenaar lyk esoteries en waardeloos. Wat help woorde? Die titel van Bruce Chatwin se boek What Am I Doing Here kom by my op.

Meer mense bedel by verkeersligte. 'n Man van 80, oom Kenny Blaine, word ná 43 jaar by sy huis in Woodstock uitgesit. Al sy meubels is net so op straat neergegooi. Bure moes kos en komberse aandra.

Op die Facebook-blad, Woodstock (Cape Town), skryf Nazeem Salie: “I’m totally against eviction. However, from a landlord’s point of view, do you think it’s fair that tenants fail to pay rent and just live for free?”

Sy woorde, waarskynlik waar, weergalm egter soos klinkende metaal en luidende simbale.

Terwyl ek droom daar was oplossings, onthou ek die oudjoernalis Tobie Wiese se e-pos aan my: “Nou die dag lees ek êrens in die verbygaan van een van die ou wysgere wat gesê het: ‘Stap, en jy sal die antwoord vind.’ ”

Carin Lilienfeld en Gilbert Gwayi werk aan die nuwe tuin,

Ek begin in Groenpunt se hoofweg lanterfanter. Nie lank nie, of ek sien 'n groepie mense onder die bome saamdrom.

Vele lyk armoedig. Sommige kyk skaam weg. Ek sien 'n lang man met 'n oop gesig en Rastalokke wat lyk asof hy in beheer is.

“Wat gaan aan?” vra ek.

Sy naam is Gerald Petersen. Hy vertel: Elke Saterdagoggend is daar 'n sopkombuis. Die hele affêre word deur hom, 'n vennoot en vrywilligers bestuur.

Hul organisasie is Hope Street. Mense kan gerus op hul Facebook-blad gaan loer. Hulle soek nog mense wat kan hand bysit.

Ek sien 'n man wat ek onthou uit die ou dae, op sy dag vreeslik deftig gewees. Ons maak nie oogkontak nie, asof armoede 'n sonde is.

Sy rug is krom. Hy wag vir sop.

Ek stap verder, Seepunt se kant toe. Toe ek by die biblioteek (nou die Colin Eglin Sea Point Library) verbyloop, sien ek weer iets wat aandag trek.

Gerald Petersen, medestigter van Hope Street.

'n Tuin in wording. Die lappie grond voor dié gebou het oor die jare agteruitgegaan en verdor.

Daar ontmoet ek vir Carin Lilienfeld en haar medetuinier Gilbert Gwayi.

Hulle het begin om die voortuin vanself reg te ruk. Sy het die Facebook-blad Friends of Colin Eglin Sea Point Library Garden gestig.

Hulle het sakke vol onkruid verwyder. Daar is nie juis 'n begroting nie en plante kos geld. Century City het 'n paar plante geskenk. 'n Vrou in Groenpunt het pragtige rooi gousblomme gegee.

Nog inwoners het geld geskenk vir die arbeidskoste. Haar buurman, 'n jong sterk man, het ook hand kom bysit.

“Elke nuwe blaar en blom, voel soos 'n goue ster vir die vele ure se werk wat ons ingesit het,” sê Carin.

Toe dink ek wat een van die ou wysgere gesê het: “Stap, en jy sal die antwoord vind.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Lanterfanter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.