Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Statig en stylvol, dié besoek is dalk laaste

faëton s.nw. Ligte rytuig, soms op twee wiele, met een of twee sitplekke wat vorentoe kyk, oop aan die kante en met of sonder ’n kap. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Gereeld op Vrydae arriveer sy in swier vir middagete by The Hussar Grill in Mouillepunt. Sy kom waarskynlik vanaf die naburige aftreeoord, Good Hope Park – die naam dubbelsinnig, selfs ’n oksimoron – afhangende van hoe jy die angel van die dood beskou.

Stadig, statig word sy in haar rolstoel gestoot deur haar helpster, so asof sy in ’n goue koets of ’n faëton by 'n oudiënsie met die koningin van Engeland arriveer. Sy is eers op die sypaadjie sigbaar, die see in die agtergrond.

Deur die groot glasvensters neem jy haar waar, elke keer raak haar afskeid meer beslis. Waarskynlik in haar vroeë negentigs, is sy hier om te groet, waar elke besoek haar laaste een kan wees.

As sy binne is, word haar praalwa by die paar trappe opgetrek, tot by haar tafel. Vandag dra sy weer ’n panamahoed, met ’n kleurvolle motief daarom gevleg. Haar handsak is van faux luiperdvel, wat by haar broekpak pas.

Sy dra altyd 'n donkerbril en rooi lipstiffie. Haar goedversorgde naels is ook rooi. Daar is ’n groot ring aan haar linkerhand.

Haar sokkies is karamelkleurig en dan die skoene: pantoffels, want haar voete is geswel. Maak dit saak? Nee. Dit is duidelik die res van die uitrusting vir hierdie noenmaal is fyn beplan.

’n Mens kan sien sy was op haar dag aanvallig – en is nog steeds. Jy kan jou momenteel verbeel sy was ’n grande dame van gewilde skemerkelkiepartytjies, die matriarg van ’n suksesvolle familie.

Haar lewe was gevul met dinees, openingsaande, komitees, tennis, welsynwerk, ’n huis vol kinders en hul vriende wat altyd die yskas leeg geëet het. Dalk was daar ’n kortstondige affair met ’n vreemdeling toe sy eens in Parys, Marrakesj of Istanbul met vakansie was.

Nou sit sy alleen met haar hulp wat verveeld op haar selfoon sit en speel, nie ’n woord tussen hulle nie. Soos baie van die bejaarde Jodinne in dié buurt is haar man al dood en elke kind in ’n ander land.

Sondagaande Skype hulle mekaar, maar sy kan nie meer lekker hoor nie. Van haar kleinkinders het sy nog nooit ontmoet nie, maar sy sien die gesiggies op haar rekenaar se skerm. Klein avatars wat op die skerm flits, asof uit die donker ruimte.

Sy bestel sagte calamari en sukkel om die Tobasco-bottel se doppie af te haal. Dan sien ’n mens hoe haar hande bewe.

Sy kan nie met ’n mes en vurk eet nie, maar gebruik tandestokkies en smul stadig aan die dis, elegant, asof elke stokkie duursame, blink, silwer eetgerei is. Stylvol, kom wat wou, “because it ain’t over till the fat lady sings”.

Sy maak haar oë toe, so lekker is dit. Toe sy stadig opstaan om in haar rolstoel te klim, hoor ek hoe sy vir haar versorger vra: “Where are we? Where?”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.