Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Stelsel gee onnodige kinkels aan ons lewens

jingoïsme s.nw. Denkrigting, strewe, soos van ’n jingo. Dweepsieke patriotisme, vurige chauvinisme. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Warren van Niekerk (41) sit voor my in die Vasco da Gama Taverna in Groenpunt, een van die Kaap se oudste kroeë en eetplekke. Hy is ’n bestuurder hier.

Warren pas mooi in – so tussen die mengelmoes van buitestanders, sportaanhangers, sakemense en gemoedelike slampampers – wat soos muurpapier met die vroeë 1970’s-dekor saamsmelt.

Hy het eendag vir my ’n storie oor sy familie vertel wat my laat dink het aan hoeveel kinkels daar in die kabels van ons land se geskiedenis is. Onvermelde stories oor gewone mense se lewens.

Dit is ’n lewensverhaal wat terugstrek tot by sy grootouers, onnodig ingewikkeld gemaak deur blinde jingoïsme en ’n ideologie-gedrewe stelsel.

Warren het in Kraaifontein grootgeword. Sy ma was donkerbruin, sy pa meer wit as bruin.

Warren is ook lig van gelaat. Toe sy ma hom as baba eendag in die tuin vashou, het ’n wit vrou verbygestap en gevra: “Wat maak jy met daai blanke kind?”

Toe sy ma sê dit is hare, wou die ontstoke vrou haar nie glo nie.

“Die kind se hare het dan krulle!” het sy gesê. “Dis ’n wit babatjie daai.”

Wanneer sy met Warren gaan loop het, het van die mense haar agterdogtig aangekyk. Op ’n dag het die polisie hulle gestop en vir haar gevra wie se kleintjie dit is.

Mettertyd namate hy ouer geword het, was dit nie meer ’n strydvraag nie. Die atmosfeer in die land was meer verlig.

Sy pa was nie so gelukkig nie. Dit is waar die kleur-“moeilikheid” begin het.

Sy pa se moeder was bruin en sy vader ’n wit Fransman. Hulle het verlief geraak, verbode in daardie dae. Uit hierdie samesyn is Warren se pa gebore.

Dié kind – hy het die bynaam “Potlood” gekry omdat hy so maer was – was lig van gelaat en het wit voorgekom. Potlood se ouers kon nie openlik met hierdie pasgeborene leef nie omdat daar moeilikheid sou wees.

In Kraaifontein was daar egter ’n statige wit vrou, ietwat van ’n eenspaaier, wat eenkant in ’n groot huis op ’n groot plot gewoon het. Dié woning was met dik matte en duursame antieke meubels versier.

Haar hart was goed. Sy het met Warren se ouma ooreengekom om “Potlood aan te neem”. Sy sou maak asof dit haar baba is.

So het sy vader in die sorg van ene mev. Van Niekerk geëindig en is hy as Nevelle van Niekerk grootgemaak. Omdat die jong Nevelle se regte ma baie lief vir hom was, is daar ’n ander plan beraam.

Sy sou maak asof sy die huiswerker is. Dan het sy gereeld kom skoonmaak en kosbare tyd met haar kind deurgebring.

Eers op mev. Van Niekerk se doodsbed het sy die waarheid vir die toe volwasse man vertel.

“Dis toe my pa so stil geword het,” vertel Warren. “Eendag by ’n familietroue het hy lank, hard en onbeheersd gehuil. Hy is op 45 dood.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Jingoïsme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.