Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Teerheid vul ons by die dood se stopstraat

fandango s.nw. Spaanse of Spaans-Amerikaanse dans in ¾-maat, uitgevoer met begeleiding van kastanjette, kitaar en soms tamboeryn. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Laas Maandag 29 Maart sou die voormalige staatspresidentsvrou Marike de Klerk 84 geword het. 'n Mens hoef nie met haar politiek saam te stem nie, maar die wrede moord op haar op 3 Desember 2001 (soos op vele ander Suid-Afrikaners) en die daaropvolgende hofsaak het die patos van ’n eensame vrou se lewe onder die vergrootglas geplaas.

Sy het in haar leeftyd ’n paar ongesofistikeerde politieke uitsprake gemaak, tog het Winnie Mandela haar begrafnis bygewoon. Al raas en skree ons op mekaar, is die dood ’n stopstraat waar jy stilstaan en met teerheid na die wêreld kyk.

De Klerk is deur Luyanda Mboniswa in haar Dolphin Beach-woonstel in Bloubergstrand doodgemaak. Hy het haar verwurg en verskeie bene in haar keel gebreek.

'n Bloedvat het in haar een oog gebars. Hy het ’n vleismes in haar rug gesteek.

“Die Here weet wanneer ek depressief voel – dan stuur Hy iemand,” het sy gesê.

Daar was wonde aan haar kop. Voor hierdie voorval het De Klerk vir sommige mense vertel sy wil net doodgaan, só ongelukkig is sy.

Hoe was haar lewe ná haar skeisaak tot met haar moord? Ek het John Thebus (72), haar dansinstrukteur en vertroueling, opgespoor.

Hy vertel hoe hy haar by ’n vriend se troue ontmoet het. Sy was skaam en eenkant. Hy het by haar gaan sit.

Hulle het gedans. Hy het haar vertel hy besit ’n dansskool in Milnerton. Sy het gesê sy stel belang om haar danspassies te verbeter.

Sy het hom ook vir ete daardie Maandagaand genooi. Toe sy die deur oopmaak het sy hom gegryp en styf vasgehou.

“Die Here weet wanneer ek depressief voel – dan stuur Hy iemand,” het sy gesê.

Woensdagaande het sy in Milnerton gaan dans. In die begin was sy inkennig gewees.

Marike de Klerk in 1994.   Foto: Huisgenoot
Marike de Klerk in 1994. Foto: Huisgenoot

Sy het haar kop laat sak. Mettertyd kon sy ontspan en die ander mense in die oë kyk. Sy het altyd met ’n fles tee en koeldranke daar opgedaag.

Maandagaande se ete het ’n gereelde affêre geword. Sy het gekook, spaghetti of wat ook al, en dan het hulle ’n glas wyn gedrink.

Soms was sy hartseer. Sy het gehuil. Hy het haar opgebeur deur sommer ’n CD aan te sit. As dit hartseer musiek was, het sy gevra hy moet iets anders speel.

“Oe, sy was lief vir boogie, swing, fandango en die cha-cha. Latynse danse was haar gunsteling,” vertel Thebus. “Ons het gedans dat die stof staan.”

Hulle het sommer so in haar eetkamer gedans. Een aand het sy spontaan begin sing. Dié vriendskap het gegroei. Hulle het lekker gesels.

Sy het gereeld met liefde oor haar kinders gepraat. Op ’n aand is hulle na die Kelvin Grove-klub om van ’n priester afskeid te neem.

Daar het sy so goed gedans – die volgende oomblik het sy ’n staande ovasie ontvang. In die motor terug het sy gesê sy was so blymoedig, almal het geglimlag.

“Ja, Marike, hulle het geglimlag omdat jý gelukkig gelyk het,” het Thebus geantwoord.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.