
Herman Lategan
misofonie s.nw. Klankhaat, geraasaversie. Super irriteerbaar met ’n sopie absolute onverdraagsaamheid daarby. – Dr. Heinz Mödler.
Vandag se woord is sover bekend nog nie in ’n Afrikaanse woordeboek opgeteken nie. Die Nederlanders verduidelik dit soos volg: “Misofonie is een aandoening waarbij specifieke geluiden heftige gevoelens van woede, haat of walging oproepen. Letterlijk betekent misofonie haat van geluid.”
Dr. Heinz Mödler het laas jaar in sy rubriek daaroor geskryf: “Misofonie is ’n oormatige reaksie op geluide wat veronderstel is om nie só ’n uitermatige reaksie uit te lok nie.”
Hierdie woord (misophonia in Engels) het hom by my aangemeld op die Green Point Community Noticeboard op Facebook. Groot fout vir hierdie nuuskierige agie, want gou het my ore begin suis.
Eers is daar ’n vrou wat ’n petisie begin met die opskrif: “We demand the removal of bad elements from our streets!” (Haar uitroepteken, in Engels is dit blootweg kommin om dit in hierdie geval te gebruik.)
Hierdie “elements” waarna sy gedurende ’n ekonomiese insinking en Covid-19 verwys, is natuurlik haweloses. Waarheen hulle moet gaan, weet geen mens nie. Seker agter op lorries bestem vir die Namib-woestyn.
Terloops, die nagskuilings is vol. Boonop was vele van daardie “elements” se voorsate lank voor hare hier op die kontinent. Nou moet hulle skoert.
Sy eindig: “We demand the authorities to take action. Enough is enough!” (Weer die uitroepteken, ai.) Dit herinner my aan die kinderliedjie “Handjies klap, koekies bak”. In haar geval “Handjies klap, voetjies stamp”.
’n Ander laagtepunt is egter hierdie klagte: “Noise from harbour ships getting out of hand.” Sy woon in ’n hawestad naby die see. Moet die bote ophou kom dok in die Kaap, omdat sy óf aan misofonie ly óf bloot net eiegeregtig is?
Blykbaar kla hordes in Oranjezicht, Tamboerskloof, Woodstock tot verby Milnerton en Blouberg nou hieroor. Een man skryf verontwaardig: “Apparently this problem is quite a regular complaint over the years, particularly with the ships in the harbour or in the bay as they enter and exit the port.”
Op dieselfde blad vra ’n man vir hulp vir ’n Kongolese familie wat besig is om hul klere vir kos te verkoop. Die pa was ’n Uber-bestuurder en het sy werk verloor, die ma is ook werkloos.
Hulle het kinders en woon in ’n enkelkamer sonder vensters. Om te kan eet, het hulle reeds hul potte, panne en matrasse verkoop. Maar in Seepunt en omtrekke word daar oor die “geraas” van skepe en haweloses gekerm.
Nog steeds is dit het einde niet. In Mouillepunt staan die Groenpunt-vuurtoring reeds rotsvas sedert 1824. Uit my kinderdae onthou ek die diep gebulder van sy hees en snorkerige stem.
Dit was op koue en stil aande soms so luid, mense kon dit tot teen die hange van Tafelberg hoor. Hoe opwindend, om deel van ’n hawestad met sy geluide te wees.
Toe vervang hulle dit met ’n gedempte sinjaal, die klank sag soos ’n baba se eerste woorde. Helaas, dit is nie genoeg nie.
Van die naragtige parvenu’s het nou begin kla. Misofonie of bloot net skreiende toondoofheid?