Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Trek die veld oor dood se hartseer

Ontsield b.nw. Doodmaak: Soldate begin vinnig te val . . . een stort ontsield ter aarde neer met 'n skoot deur die kop (G.D. Scholtz: “In doodsgevaar”, 1940, 28). – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

In 'n doodsberig skryf 'n gebroke ouma die afgelope week in Die Burger oor haar kleinkind: “My liefste Edward (15), jou plekkie in my hart sal altyd gevul wees met al my mooi herinneringe aan jou sprankelende lewe. Daar sal altyd vir jou gemmerkoekies en beskuit in die potte wees. Jou verlangende ouma Elmien.”

Ons word weekliks met die dood in die sterfgevalle-afdeling van koerante gekonfronteer, ook in nuusberigte. So ook moet daardie mense wat 'n dood na aan hulle ervaar die ontsettende verlies verwerk.

Die dood is nie 'n grap nie, maar om dit makliker te maak, het ons daarvoor pragtige eufemismes in Afrikaans. Daar is sulke mooi woorde en sêgoed vir die dood, dit maak 'n mens sommer liewer vir dié taal.

Dit wys jou ook, hierdie mense wat dié hartstaal praat weet hoe om deur middel van woorde, wat ? lieftallige gevoelswêreld skep, te oorleef – met deernis, met barmhartigheid, en veral met 'n tikkie humor – sonder om die dood sy smart te ontken.

In die WAT staan die besonder beskrywende woord sandkombers: onder die (’n) sandkombers wees (lê) of sandkombers toe wees of sandkombers wees – idiomatiese uitdrukking (geselstaal; eufemisties). Dood en begrawe wees: Die Overberg . . . het segswyses wat tegelyk skeppend en met humor gelaai is . . . As jy sterf, lê jy onder ’n sandkombers.

“Deesdae gaan mense dood wat nog nooit vantevore doodgegaan het nie. Ons trek die veld oor hulle.”

Om te slaap is oë skoonmaak (Die Burger, 7 Junie 2000, bl. 5). (Ook opgeteken in Clanwilliam, Bloemfontein en die Paarl.)

Of jy is na jou sandkooi. Die ander een is die gestorwene dra nou 'n houtbaadjie (die kis), of hy het sy houtpak aangetrek. Op die Facebook-blad “Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!” is daar ook 'n ryk bron en lys van uitdrukkings.

Daar word gepraat van: Hy het die Jordaanrivier oorgesteek. In George verwys hulle na, hy het sy ID-boekie ingegooi. In die Noord-Kaap sê hulle hy is die laaste rooiduin oor.

Verder is daar: Hy het die swart Cadillac gery. As mense na aan jou begin sterf, praat die oumense van hulle begin in ons laning of bos kap.

Maria Beukes skryf: “My broer het altyd gesê as ons oues die jong familie se begrafnis bywoon: Ek kan nie verstaan dat die jonges so voor ons indruk nie.”

Erika Nienaber gee drie voorbeelde: Hy is langbome toe / het die koets geklim / is deur die poorte.

Mary Sadler sê die mense praat van: “Deesdae gaan mense dood wat nog nooit vantevore doodgegaan het nie. Ons trek die veld oor hulle.”

Is laasgenoemde nie pragtig nie? Die veld wek beelde van vars grond, bosse, gras, blomme, terug aarde toe. Hy het wolk gevat, is ook pittig.

En so kom haal die dood ons almal en word ons onder die sagte, helende woorde van dié wat agterbly, stil begrawe.

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.