Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Tuinhekkie wat wind van onthou laat waai
Herman Lategan
Herman Lategan

fantasma s.nw. Herinneringsbeeld. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

In die openingsparagraaf van die roman Rebecca deur Daphne du Maurier sê die tweede Mrs De Winter: “Last night I dreamt I went to Manderley again. It seemed to me I stood by the iron gate leading to the drive, and for a while I could not enter, for the way was barred to me.”

Hierdie woorde het by my kom aanklop in ’n droom. Ek was terug in die 1970’s en weer kind. Oorkant die woonstelgebou waar ons gewoon het, was daar ’n groot boom voor ’n huis.

In hierdie woning het my kleintydvriende saam met hul ma gebly, twee seuntjies.

Ek was weer by die hek, wat stadig oopgegaan het.

Langsaam, of ek op die maan trap, is ek by die trappe op waar my vriende op die balkon gewag het. Hulle het die voordeur oopgemaak. Ek onthou die ronde koperhandvatsel.

Hul jackrussell, Dopey, het geblaf en ’n tennisbal opgetel. Soos gewoonlik wou hy hê ek moet dit in die tuin gooi sodat hy dit kan gaan haal.

Ons het geloop van kamer tot kamer, ons was weer klein en lig. ’n Leeftyd se terugslae, verliese, selfs suksesse het nog nie op ons jong en weerlose skouers gerus nie.

Ons was nog te verbind aan ’n voorwêreld. Hallo, kombuis; hier is jul ma se kamer; hallo, sitkamer, hier waar ons op die TV na Arsène Lupin of Die meisie van Avignon gekyk het.

Die boom uit my kindertyd.

Daar is die ou telefoon waarop ons poetsoproepe gemaak het om mense in te lig dit is Radio Goeie Hoop en hulle het ’n reis na Skotland gewen. Lê op die vloer en lag. Dopey blaf.

Ons is stout. Ek vat die tuinslang en kruip agter die muur weg. Julle draai die kraan oop en ek spuit die mense wat verby loop nat.

Wat hoor ons daar? Dit is Sondag. Die Heilsleër se orkes marsjeer op sulke middae die straat af, blaas op trompette en slaan trots tromme. Ou ooms met boeppense en gekrulde snorre wat flink in gelid marsjeer.

Almal kyk by hul vensters uit, ook die kluisenaarvrou met die geel en groen krullers in haar hare en sigaret in die mond.

Snags kan die hele straat haar hoor hoes en huil.

Vrydagaande die vishoring van mnr. Patel, wat snoek en groente verkoop uit sy blou Bedford-lorrie.

Opklim in die boom, val, seer skouers, weer opklim en later 'n boomhuis bou waar ons dae en nagte deurbring. Ons eie klein biblioteek in die lug waar ons kon strokiesprente lees.

Ná die droom is ek na die huis. Die boom staan steeds daar. Die huis is toe.

“Daardie boom en die dood is die enigste twee konstante goed op hierdie planeet,” laat weet my vriende uit die buiteland. Ek stuur vir hulle ’n foto daarvan.

Hulle kry hoendervel.

Toe niemand die klokkie beantwoord nie, kom die laaste sin in Rebecca terug: “And the ashes blew towards us with the salt wind from the sea.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Fantasma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.