Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Vat plase wat mense magteloos maak . . .

magtelose, s.nw. Iemand wat magteloos is: Omdat die armes, die weduwees, die wese, die vreemdelinge gewoonlik ook die magteloses was, was hulle by uitstek die prooi van uitbuiting en verdrukking (Kerk en Samelewing, 1986, 28). – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

So 30 jaar gelede was daar ’n gesiene boer wat ’n druiweplaas, Dassieshoek, in Lutzville, Namakwaland, besit het. Sy wingerde was vrugbaar. Die Olifantsrivier het langs sy grond gevloei.

Snags het hy dronk geword en sy vrou geslaan. Later het hierdie vrou ’n spook van haar vroeëre kleurvolle self geword. Die vrou se seun het skoolvakansies vir haar kom kuier. Hy is deur die boer ’n hoerkind genoem. Die kind is buite die eg gebore. Die boer het die kind geklap. As hy dronk was, het hy hom ’n moffie-
gemors genoem.

Sy ma het ’n mastektomie gehad. Haar man het haar gereeld met sy vuis op haar af bors geslaan.

Deur die dag as hy in die dorp gaan kuier het, was hy pure jintelman. Min het die dorpsmense geweet hoe ma en kind saans in vrees moes lewe. Deure waaragter hulle moes skuil, is met ’n byl afgekap. ’n Geweer is gereeld op hulle gerig.

Dan het ma en seun die koppie uit na die werkershuisies gevlug. Die boer was te dronk om hulle agterna te sit.

Die werkers was saggeaarde mense. Oor vele geslagte heen is hulle deur liefdeloosheid, vernederende armoede en die dopstelsel verrinneweer.

Hierdie einste mense se taalgebruik het later ’n groot invloed op die kind se liefde vir Afrikaans gehad.

Hulle was goeie mense wat die boervrou en haar “hoerkind” skuiling gegee het. Daar is laatnag stories in Namakwalandse Afrikaans om ’n vuur vertel. Hulle het roosterkoek oor die vlamme gemaak.

Hierdie einste mense se taalgebruik het later ’n groot invloed op die kind se liefde vir Afrikaans gehad.

Anna-John en haar man, John Meerkat, was veral groot elegiese storievertellers wat onder ander omstandighede skrywers kon geword het.

Hulle, soos die ander werkers op die bult, het gereeld in die wingerde waar hulle gewerk het onder die boer se sambok deurgeloop. Hy het hulle pak gegee totdat hulle hard soos kinders gehuil het.

Op dieselfde plaas is hierdie nou ontslape boer se susterskind, Martin Visser, die nuwe baas van die plaas. Hy is deur regter Nathan Erasmus lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op ’n seisoenwerker wat hom geld geskuld het.

Adam Pieterse (“Mannetjies Diktoon”) is deur Visser met ’n graaf in sy werkershuisie doodgeslaan. Hy het sy lyk deur ’n venster gedruk, hom agter sy motorfiets vasgemaak en op die pad na sy pa se naburige spogplaas, De Hoek, gesleep.

Daar het hy vir twee van Pieterse se vriende gesê: “Julle twee hoerkinders, maak hom toe.”

Hulle moes hom begrawe onder harde rooi sand, langs die Olifantsrivier, daar waar hulle gewoonlik skaapvelle en ou dooie honde begrawe het. Later toe hulle sy ontbindende liggaam gevind het, is ontdek sy geslagsdele en sy perineum was vermink, sy brein papgeslaan.

Daardie vrou en haar “hoerkind” wat jare gelede op dié plaas gebly het, was ek en my oorlede ma, Maria. Nou wonder ek: Moet so ’n plaas nie onteien word nie?

Meer oor:  Grondonteiening  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.