Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Verdriet as huis van drome tot niet gaan

hoenderverdriet s.nw. Onaantreklike, nikswerd plek, meestal verlate, droog en kaal (Bloemfontein, Swellendam). – Annerlike Afrikaans. Hoofredakteur: Anton F. Prinsloo.

Vandag maak een van die land se merkwaardigste DVD-winkels sy deure toe. DVD Nouveau in Claremont, Kaapstad, sluit.

Die een in Breëstraat is al ’n geruime tyd weg. Hier kon jy enige rolprent kry, van Italiaanse spaghetti-westerns wat skokkend in Engels oorgeklank is, Bollywood, Nollywood (flieks uit Nigerië) en Afrikaanse DVD’s tot eksotiese Europese kunsfilms uit Denemarke en ook Suid-Korea.

Die interieur was kleurvol, met bont muurpapier, pragtige kandelabers en teatrale lampe wat van die dak afgehang het. Daar was purperpers sofas waar jy kon sit en dink wat jy gaan kies. Koffie is bedien.

Jy het nie sommer net daar ingeloop nie, dit was ’n gebeurtenis, ’n okkasie. Vir ’n wyle is jy toegevou in ’n wonderwêreld vol drome wat op DVD vasgevang is en interessante karakters wat ook iets kom kies het. Hennie Aucamp het gereeld hier kom inloer en kon lang tye daar staan en besluit wat om huis toe te neem.

Eendag was daar ’n bejaarde man wat ingekom het en gevra het of hy net kan rondkyk. Hy het in hierdie gebou grootgeword, het hy vertel. Dit was ’n huis, hier was sy kamer, daar was die sitkamer, het hy beduie.

Die mense agter die toonbank was nie juis normaal in hul gedrag nie, maar dit was deel van die sjarme, want konvensioneel kan maar saai wees.

Oorkant was sy oupa se slaghuis. Hy was ’n Moslem, so, die huis was eintlik half deel van die Bo-Kaap. Hy het vertel van die bure en hoe hulle as kinders tot ná donker in die strate gespeel het. Nou is al daardie ou huise besighede.

Die mense agter die toonbank was nie juis normaal in hul gedrag nie, maar dit was deel van die sjarme, want konvensioneel kan maar saai wees. Die daggaroker het luidkeels gelag vir alles, selfs as jy vir hom so pas vertel het jou kat is dood.

Dan het hy sy kop agteroor gegooi in ’n beswyming en so hard gekraai ’n mens kon hom amper in die hawe hoor.

Daar was die vrou met die bang oë wat in ’n fluisterstem gepraat het, so asof sy ’n verskriklike geheim het om te vertel.

Iets soos dat sy haar ouma drie jaar terug in ’n kamer toegesluit het en nog geen geluid weer van haar gehoor het nie. Nou wil sy bieg.

Die man met die ringe deur sy neus het weer ’n erge humeur gehad. By hom moes jy nooit kla ’n rolprent was vervelig nie, want hy was soos ’n bul in Spanje wat ’n rooi doek gesien het. Die ringe het begin ratel en sy neusgate het groter geword.

In Seepunt was daar Dora’s Video World, ook lankal toe. Dora was ’n Jodin met ’n groot bos swart hare wat vir ’n paar jaar tronk toe is. Sy het glo roof­kopieë van iets verkoop.

Die meeste DVD-winkels (en apteke) in dié voorstad, en daar was baie, het gesluit. Dit is dus hoe sake nou staan. Dit is die einde van die hoekkafee, apteek en DVD-winkel.

Wat ’n miserabele plek vol hoenderverdriet het ons wêreld nie geword nie.

Meer oor:  Hoenderverdriet  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.