oudertous b.nw. (geselstaal) Oudmodies of uitgedien. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.
Op soek na iets in ’n boks, kom ’n mens soms onverwags op ’n paar ou handgeskrewe briewe af. Hul dae is uitgedien.
Ek vou die een oop van ’n vriendin wat al vir dekades in Londen woon. Die papier kraak, dit is gedateer November 1994.
“Ek mis jou en ons vriendekring vreeslik. Is julle okay? Julle bly van die mense vir wie ek die liefste is. As ek terugkyk na die jare in Kaapstad besef ek nou ek het julle ontmoet gedurende die jare in my lewe waarin ek die heel gelukkigste was. Ek het dit nie geweet nie.”
Op die internet is daar ’n foto en ’n handgeskrewe brief, geskryf op 26 Maart 1949. Twee jong vriende staan langs mekaar, waarskynlik was hulle saam lewensredders op ’n strand.
“To Buzz, I’ll always remember the times we spent together. All my love, your Tommy.” Was hulle boesemvriende? Minnaars? Het hulle mekaar ooit weer gesien? Vermoedelik nie. Al wat oorbly van daardie oomblik en tydperk is die wit-en-swart foto en ’n nota.
Agter hulle stap ’n man terloops verby, onbewus van die kosbare oomblik in die kleine. Nes my vriendin wat nie besef het ’n sekere tydperk in haar lewe was haar gelukkigste nie. Daardie insae kry sy toe sy destyds die brief skryf met terugskouing.

“To Buzz, I’ll always remember the times we spent together. All my love, your Tommy.”
Ek kom op nog ’n brief af. Een dun vel papier: Sydney, April 1996. “Die lewe in Sydney is amper normaal ná die Mardi Gras en julle kuier. Almal vra na julle. Ons mis julle verskriklik en het jul verblyf by ons so geniet.”
Hoe gou vergeet ’n mens van die liefde tussen vriende? Dat ou briewe ’n mens nou daaraan moet herinner.
In die ou boks is ’n handgeskrewe brief van ’n man wat soos my skoonpa was, dr. John Sonnenberg, aan my huismaat, albei nou saliger. Dit is meer onlangs geskryf, Kersfees 2014. Dit het waarskynlik met ’n geskenk gekom.
“Liewe Athan, die maaltye wat jy vir ons maak is koningskos.” Min het ons toe geweet daardie maaltye sou tot ’n einde kom.
Daar is ’n brief wat hy geskryf het vir sy 50ste huweliksherdenking. “Liefste Jerry. Jy is die beste vrou waarvoor enigiemand kon vra. Dankie dat jy so mooi na my en die kinders gekyk het. Altyd ’n sagte antwoord. As ek terugkyk kan ek met sekerheid sê my jare met jou was die beste wat ek ooit gehad het.”
Dan kry ek ’n brief van ’n vriendin wie se huwelik in ’n skeisaak geëindig het. Die datum is 3 September 2001.
Sy rig die brief aan haar eksman, maar ek moes dit hou. As die tyd reg is, moet ek dit aan hom gee.
“In die jare wat kom, sal jy hierdie brief lees,” skryf sy aan hom. “Ek sal nie by jou wees nie, maar ek wil jou herinner hoe spesiaal dit alles was.”
Die tyd is reg om dit aan hom te gee.