Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Verlange na ’n plaas, ’n naam en ’n graf . . .

sandtrapper s.nw. (neerhalend) Minderwaardige, onbeduidende persoon, veral een wat in die binneland woon. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Thabiso Paulus Kotoloane (73), oftewel Paulus, is ’n tuinier wat ek elke jaar sien as ek gaan besoek aflê in Springfontein in die Suid-Vrystaat. Hy arriveer ligdag elke weeksoggend op sy fiets.

So sit ek gereeld by hom wanneer hy sy middagete nuttig. Hy vertel vir my in sagte Afrikaans van elke struik en groenigheid, waarvan hy die name soos Bybelversies uit sy kop uit opsê.

Deur die dag as die son skyn, hoor jy verskeie voëls in die perskebome kwetter en sing.

Eendag blits en donder dit, dit klink soos ’n lugaanval.

Die blinkwit weerlig slaan vinnig en aanhoudend. Dit is vlymskerp assegaailemme wat uit swart wolke die aarde lukraak tref.

“Die Here is weer kwáád,” sê Paulus. Hy vertel my hoe hy al ’n koei gesien het wat deur bliksemstrale doodgeslaan is.

“Daar lê koei se kind, verkool,” vertel hy.

“Dit was erg, want ek het daai dier as kalfie geken. Haar naam was Blommetjie.”

Toe vertel hy sy lewensverhaal.

Paulus sê hy is op ’n plaas in die omgewing gebore. So ook sy ouers en grootouers.

Thabiso Paulus Kotoloane

Daar het hy sy vrou, Elsie, ontmoet. Eendag is die boer woedend oor iets. Toe jaag hy sommer ’n paar van die werkers van die plaas af.

“Julle klomp sandtrappers, k****rs, f****f van my plaas af!” het hy geskree.

Hy en Elsie is vort. Paulus het werk gekry by die destydse Hendrik Verwoerd-dam. Deurentyd het hulle na die plaas en hul mense verlang.

Toe sy take daar klaar is, het hulle die pad gevat na Sasolburg en Secunda, waar hy loswerkies by Sasol kon kry. Steeds het hulle met liefde aan almal op hul heimat teruggedink.

Hulle hoor toe daar is by die kafee in Springfontein ’n betrekking. Al mag hulle dan nie weer op die plaas ’n voet sit nie, was hulle darem weer nader aan familie en vriende. 19 jaar lank het Paulus hier gewerk, totdat dié plek toegemaak het.

Daarna het hy as tuinier begin werk. Elsie het op ’n dag gekla sy voel sleg. Met die minibustaxi is hulle na die hospitaal, waar hulle vertel is sy het gevorderde borskanker.

Hulle het haar Panado vir die pyn gegee. By die huis het hy nog langs haar gesit en gesels toe sy sy hand vat en sê: “My man, ek loop nou.” Toe sterf sy.

Hy het die oorspronklike boer, nou saliger, se kleinseun gevra of sy op haar geboorteplaas begrawe kan word. Sy is toe daar weggelê. Hy sê dit is sy droom om eendag langs haar te gaan lê.

’n Ruk gelede kom die oproep, Paulus is dood. Ek bel die plaas en vra of daar onlangs ’n man begrawe is.

“Ja, ek dink so,” antwoord die vrou, “maar ek weet nie wie nie. Dis van daai mense wat glo vir my man se oupa gewerk het. Maar ek ken nie sy naam nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.