flonker ww. Sag en warm skitter. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha
Ná ’n donker 2020 besluit ek om deur die strate van Kaapstad te gaan stap. Ek wil aan iets anders as laas jaar dink. In die venster van ’n antiekwinkel sien ek 'n objek van die vroeë 1970’s.
'n Draailamp gemaak van optiese vesels.
Daar is twee skakelaars. Die een laat die liggies aan die einde van die veseldrade met kaleidoskopiese kleure in sirkels rondbeweeg. Die ander een laat die lamp met een kleur flonker. Jy kan kies: Daar is rooi, groen, oranje, blou en geel. Die lamp lyk soos die kuif van ’n kuifkopkraanvoël.
Hierdie skemerlampe kom van ’n era wat 50 jaar terug strek, maar op daardie oomblik vir my soos gister voel. Dié liggies was gewild in vele wonings in daardie dekade. Hulle was die agtergrondbeligting vir samesyn, partytjies en romantiese aande.
Ek is weer ’n kind in 'n losieshuis in Seepunt saam met my ma en haar vriende. ’n Tyd waarin mense aan mekaar kon vat, soene uitdeel en saam dans. Vroue het minirokke, byekorfhaarstyle en lang, vals oogwimpers gedra. Hul wenkbroue is met swart potlood geaksentueer.
As jy lus was vir flankeer of elegant wees, het jy Sobranie Cocktail-sigarette gerook. Dié was ook in ’n mengelmoes van groen, pers en geel kleure beskikbaar. Die filter was goudkleurig.
As ’n vrou dit in ’n asbakkie doodgedruk het, was daar rooi lipstiffie op dié filter. Hierdie silwerkleurige asbakkies kon spin. Hulle het ’n hefboom gehad wat jy kon druk sodat die binneste gedeelte oopvou en die stompie daarin verdwyn.
Daar was ook ’n aanvallige heer byderhand om die volgende een vir jou aan te steek – met sy Zippo-sakaansteker wat hy met ratsheid oopknip.
Dit was ook die tyd van kitsch, met Tretchikoff-afdrukke op talle mure. Badkamers was gereeld avokado-kleurig. Matrasse, matte en gordyne was vol blommotiewe. Jy kon jou kop agteroor gooi en hardop lag, sonder om jou te bekommer oor kieme wat jy die lug inblaas.
Lyndanspartytjies was gewild. The Carpenters (“We’ve Only Just Begun”) en Johnny Nash (“I Can See Clearly Now”) was onder meer die klankbaan van daardie tydperk. Fondues was gewild omdat almal hulself kon help. Skindergeselsies is langs die pruttende koperpotte aangeknoop.
“Haai, Bettie, kyk tog vir Elfie, wat weer in die hoek sit en huil.” Elfie sit en snik in 'n macramé-stoel wat van die plafon hang.
Sy beweeg alom in klein sirkels soos ’n meisie op ’n swaai.
“Wat nou weer?” sê Bettie vir Liesbeth.
“Dis weer Johnny en sy rondvryery. Iemand het hom glo met ’n jong nooi wat soos Anneline Kriel lyk by die President-hotel se disko sien rinkink. My ma het my mos altyd gewaarsku teen ’n man met ’n motorfiets en 'n leerbaadjie. Elfie wil nie leer nie.”
“Can I help you, sir?” sê 'n man langs my. Hy kon sien dat ek vir 'n halfuur in die warm son deur die glasvenster na 'n dooie lamp staar.