Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Vier troues, ’n begrafnis – en ’n nadraai

dadaïsme s.nw. Ultraradikale kunsrigting wat tydens Wêreldoorlog I in verskeie lande ontstaan het, maar feitlik weer verdwyn of oorgegaan het in surrealisme. Gerig op die verwerping van bestaande estetiese norme (effens gewysig). – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die lewe kan by tye surrealisties wees, jy moet soms mooi dink waar die grens tussen fantasie en werklikheid lê. Die rolprent Four Weddings and a Funeral het by my opgekom toe ek ’n ou vriendin, Ellen Raubenheimer, raakloop. Sy het gesprankel.

“Nee,” vertel sy, “dinge gaan beter as ooit.” Ek sien sy lyk sommer jare jonger.

“Ek en Aldo (Wessels) is toe getroud.” “Waar?” vra ek.

“In Las Vegas van alle plekke. En raai wat? Die priester was soos Elvis Presley aangetrek, hy het hom perfek nageboots.”

Dit laat my toe dink hoe verfrissend sulke ongewone troues is. Ek onthou nog drie. Die een was tussen ruie groen bome in Nuweland, Kaapstad, in die Soefi-tempel.

Skoonma het ’n lang kaftan gedra met silwer sandale en bloedrooi toonnaels.

Die gebou waarin dit gehou is, was rond soos ’n futuristiese vreemde vlieënde voorwerp, destyds met oranje vensters. Binne het die bruidegom se ma, wat omtrent 20 gelyk het, Elton John se “Rocket Man” op ’n elektroniese orrel gespeel.

Sy het ’n hond langs haar gehad wat hard saam gehuil het as sy die hoë note geslaan het. Skoonma het ’n lang kaftan gedra met silwer sandale en bloedrooi toonnaels.

Daar was baie hippies, die peuselhappies ná die tyd was miniatuur-quiches, gemaak met Noordhoek-towersampioene en versier met daggablare.

Die ander troue was van ’n kollega, Doria Joubert, gehou in Langstraat in ’n modieuse “techno lounge” soos hulle in die 1990’s bekend was. Dit was skemerig binne, oral was lawalampe, die mure was bedek met purper stoffering.

Nadat hulle “I do” gesê het, het hulle op polsende tegnomusiek stadig die lang stel trappe onder luide toejuiging afgeklim.

Albei is kort daarna tragies in ’n motorongeluk dood en die huldigingsdiens was in ’n kerk op Groentemarkplein net om die draai van waar hulle getroud is.

Die vierde troue het ook ’n droewe nadraai gehad. Dit het eers later op die lappe gekom. Die venue was in Langstraat, nes die ander een, geleë op die eerste verdieping van ’n historiese gebou wat oor Leeukop uitgekyk het.

Dit was vroegaand en die laatsomer was soel. Die outydse balkon was vol gemakstoele, sagte musiek het in die agtergrond gespeel, en flikkerende liggies wat soos rooi rissies gelyk het, was oor die plante drapeer.

Dit was ’n aand van lekker spys en drank, almal was beleefd en goed gemanierd. Daar was mooi toesprake en ligte handgeklap met koppe wat innemend geknik het. Die grappies was skoon en daar was nie juis ’n dadaïstiese klankie in die lug nie.

Toe die dansbaan oopgestel is, was die musiek meer ligte boogie-woogie as harde AC/DC of Black Sabbath. Dit was in hierdie sagte milieu waar twee vreemdelinge op mekaar verlief geraak het.

Al dansend. Albei was getroud, met ander mense. Al twee is kort ná hierdie gesellige troue geskei.

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.