Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Vlaeberg se vuurvlieë flikker nie meer nie

eindstryd s.nw. Laaste, beslissende stryd: Die boek Openbaring (spreek) in een van sy tekeninge van die laaste oordele van ’n kolossale eindstryd waarin een-derde van die mense sal omkom. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Etimoloë noem dit die voorruit-fenomeen. In die tydskrif Science skryf hulle: “As jy met mense praat, het hulle ’n kropgevoel. Jy hoef nie te verduidelik nie. Hulle onthou hoe insekte teen hul windskerms vasgevlieg het. Vandag gebeur dit bitter min.”

Dit laat my dink aan kleintyd teen die hange van Vlaeberg, toe ’n mens nog daar kon braai. Jy kon vuurmaak en vleis oor die kole gooi. Dan sien jy hulle.

Talle glimmende vuurvliegies wat die aand verhelder. Onder die stad se ligte, die donker see met die skynsels van bote.

Maar wat uitstaan is die wit vlammende insekte wat soos ’n kermis se gloeilampe oor die grashange flikker. Hulle is nou weg. Science skryf ook die woude in Nederland, die res van Europa en Noord-Amerika is nou sonder vuurvliegies.

Op die skuinstes van Tafelberg, bo in Rugbyweg, Oranjezicht, was daar altyd vele rooi vet sprinkane. Sommige mense noem hulle rooibaadjies, ander skuimsprinkane en ook stinksprinkane. As jy naby hom kom, skei hy skuim af wat sleg ruik. Alhoewel daar nog van hulle oor is, is hulle meestal verdwene.

Hoe onthou ek die dae op die stoep van ons woonstelblok, met sy klein tuin.

Agter Berghof in Oranjezicht, waar die skrywer Elsa Joubert woon, is daar ’n bergstroom. Daar het ek as kind ná skool net om die draai gaan paddavisse vang en dan teruggegooi.

Die stroom bestaan nog, maar toe ek anderdag daar gaan loop, het ek geen paddavissie gesien nie. Ook nie die uile wat destyds gereeld in die bome gesit het nie.

Hoe onthou ek die dae op die stoep van ons woonstelblok, met sy klein tuin. Op ’n dag het ek in die son gesit en gedink: Wat het van hulle geword?

Die verkleurmannetjies wat in die boom vir jou sit en loer het. Bidsprinkane wat op jou hand kom kuier het. Liewenheersbesies op blomme. Bye wat zoem. Krieke. Erdwurms.

Kleurvolle skoenlappers wat tussen plante deur fladder. Saans die motte wat om die kerslig kom samba. Weg.

Met die afwesigheid van insekte, is die voëls skaarser. Swerms verskillende soorte voëls het jou soggens wakker gekwetter met ’n simfonie van verskillende sangstemme. Stilte.

Nou is dit net die antieke dor geskree van die hadida, ’n oerkreet wat weergalm soos oor ’n prehistoriese aarde vol slik, slym en vog. Selfs die seemeeue in Seepunt wat ek as tjokker onthou, hordes wat gil, vlieg en dobber op die see, is minder.

Hulle kon jou mal maak Saterdagoggende as jy wou laat slaap. Hul eensame gekerm is nog daar, maar skrappies.

Ek en my jong vriende het gereeld by Drieankerbaai se strand gaan visvang. Die water was skoon en vars. Ons het visse gevang en mossels gepluk. Nou is die water vol rioolvuil. Daar is skaars ’n sandhaai.

Dit voel asof die begin van ’n metaforiese eindstryd vir fauna in die metropolis aangebreek het. Ons kom dit nie eens agter nie.

Meer oor:  Eindstryd  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.