Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Vra Jock van Welgevonden waar my nuwe hart dan is

kwotidiaan (medies) b.nw. Wat daagliks terugkeer: ’n Kwotidiane koors. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Vir nagte en dae rol ek met herhalende Covid-19-koorsdrome rond, swetend. Visies van perde met monde wat skuim en na stal ruik kom lê onder my ooglede. Ek sit op die rug van een (of is dit ’n tier?) wat galop oor wit geskroeide vlaktes. Ahasveros op sy wit perd.

My lippe bars, water, water. Ek soek water, maar proe bloed.

O sexy en blink Raka, kom na my: “Oorkant die water het hy uitgestap / uit die gebreekte riete.”

My oë verdor tot rosyntjies, val uit hul kaste.

Voëls met skerp snawels sak toe, pik hulle op.

My oë is hommeltuie wat vlieg in die bekke van prehistoriese voëls oor antieke landskappe, vol rook en riet. Hulle vlieg tot teen die warm son, waar hulle dit terug uitspoeg aarde toe.

In die verte hoor ek hulle koggel. ’n Koggelmander steek sy tong vir my een oog uit, katrol dit in. Donkerte: “Look into my eyes, you’re under.”

Drome kom soos hoogwatergolwe, onophoudelik. My bene en arms is afgekap, my tong is uitgeruk, ek is ’n torso op strooi waar ek hulpeloos in die perdestalle wegkruip.

Ek ruik die Avbob-asem van ’n perd teen my gesig. Hy runnik. Dan lek hy die rou wonde waar my arms afgesny en my bene afgekap is.

Moet my net nie byt nie, dink ek, nie nou nie. Dan hap hy aan my linkerwang en skeur ’n stuk af. Wat oorbly is my grynsende gebit wat eenkant glimlag soos ’n skedel wat in twee gekerf is.

Staan op, laat hierdie drome eindig, strompel na die kombuis, gryp ’n waterglas, tande klap teen mekaar soos masjiengewere wat skote tydens die bosoorlog afvuur. Hardloop terug na die bed wat deurdrenk is met sweet en sout.

Ogies toe, die drogbeelde kom terug, no rest for the wicked, no siree, jy wíl mos jou klein ketter-gemors: Ek sien boervroue se gesigte teen staaldrade met tente agter hulle, kinders wat huil, plase wat tot op die grond toe afbrand, vee wat verwilderd die vlaktes inhardloop.

'n Briefbom ontplof in my gesig. Ek droom van verbleikte rugwerwels en skenkels, dolosse.

Daar is klipkerke, kliprante, Peter Blum skree terwyl Ina Rousseau sy tepels blinkvryf: “Allesverloren is my plaas / Leë murasies noem my Baas.”

My kis wat afsak in die grond. Dit hou aan met tuimel, soos ’n hysbak wat by die Wêreldhandelsentrum 110 vloere neerstort terwyl passasiersvliegtuie daarteen vlieg en ontplof.

Die aarde, die mense rondom my graf verdwyn, hul gesigte word kleiner, die donkerte dieper, terwyl ek wegsak na die kern, warm binneste van die aarde waar die lawa aan my lek.

“Ons verloor hom,” sê die dokter op die operasietafel wat my hartoorplanting doen, hy dink ek kan hom nie hoor nie. “Ons het die nuwe hart by Jock op Welgevonden vergeet.”

“Die gaste sal nou-nou hier wees,” sê die slank Mrs. Silberstein.

“Ons het net genoeg kans om te verklee.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.