Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Vry soos ’n spook wat net kan huil (en dalk nog sing)

klamhandjie s.nw. Spook. Opgeteken by Fraserburg en Clanwilliam. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die spook dryf hoog bo die aarde in die hemelruim. Hy is eensaam.

Boonop is daar ’n melankolie wat hy gedink het net mense kan ervaar. ’n Droefheid hang soos ’n kleed oor sy skouers, wat uiteraard nie meer bestaan nie.

Onder. Doer onder, sien hy die aarde om sy as rondomtalie. Spook, wat doen jy nou eintlik? Hy wil vra wat hy met sy lewe maak, maar dit is ietwat van ’n strydigheid.

In die verte sien hy nog ’n dwaalgees geluidloos beweeg. Verstommend, hy dog hy is alleen.

“Hallo, waarvandaan kom jy?” vra spook een.

“Ek is so bly ek sien jou nou hier, ek was baie alleen. Ek was oorspronklik ’n Suid-Afrikaner, maar toe ek doodgaan is ek nou in ’n niemandsland,” sê hy.

“Jy kan mos sien, hier vlieg ek deur die duisternis, in ballingskap.”

“Van waar, Gehasi? Praat jy wat nie meer tande het nie, ek kom ook uit daai geweste, dit is toe ek nog ’n man van belang was. Voortvarend. Kyk hoe lyk ek nou.”

Hy wou vir sy eie grap lag, maar gewaar toe spoke kan nie lag nie. Hulle huil.

“Laat ek jou vertel van my lewe daaronder,” sê hy. ’n Meteoriet skiet verby hulle teen ’n helse spoed.

Hulle wou skrik, maar besef toe tesame hulle kan nie meer nie. Spoke kan ook nie skrik nie.

“Hopelik is dit op pad aarde toe; groot genoeg om die hele ou plek in skerwe te laat spat.”

“Klaarblyklik kan ons nog bitter en wrang wees,” sê spook een vir nommer twee. Name het hulle ook nie.

Kyk, eintlik is daar tog ’n voordeel aan om ’n spook te wees, al hang jy soos ’n deursigtige jammerlappie op ’n wasgoeddraad. Jy is klaar met die wêreld.

“My lewe op aarde? Eerstens is ek nie gevra om gebore te wees nie. Het iemand gaan sit en my vertel wat op ’n mens wag as jy uit jou ma se lende gehaal word?

“Ek sou mos geantwoord het julle is laf. Hoekom dink jy skreeuhuil ’n baba?

“Maklik om te sê dit is om kamma suurstof in te asem, of wat daai klomp daaronder hulself probeer wysmaak. Die baba is geskok, getraumatiseerd om te besef hier is ek nou in ’n plek waar ek nie wíl wees nie.

“Tot my twintigs was my prefrontale korteks net-net ontwikkel. Ek onthou maar min, maar al die trauma van grootword is wel in my amigdala en verkrimpte hippokampus gestoor. Ha!

“In my dertigs en veertigs was ek voortvarend, in my vyftigs het ek my werk en die mensdom begin haat en in my sestigs het my gesondheid begin oppak. Toe gaan ek dood.”

Dit is net daar dat hulle bymekaar inhaak en die donkerte invlieg en luidkeels sing: “Born free / As free as the wind blows / As free as the grass grows / Born free to follow your heart.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.