Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Wanhopig soos ’n Sondag in Kaapstad

ademloos b.nw. (figuurlik) Waarby die asem as’t ware opgehou of ingehou word: 'n Ademlose spanning, stilte.
– Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Daar is min plekke wat ’n mens so verlate laat voel soos die Kaapse middestad op ’n Sondagmiddag. As jy onderdeur die groot burgersentrum met sy kil Oos-Berlynse argitektuur ry, Adderleystraat se kant toe, tref dit jou: Dit is asof die stad, wind en see bestraf is. Stilte sak stom neer.

As die wind wel waai, is dit ’n triestige geluid soos die gehuil van welpe. Baie van die glaskastele in en om hierdie gebied is vyandig, bot, die blink en donker vensters weerkaats die stad se alleenheid terug na hom toe.

Eenkeer het ek ’n sirene gehoor, luid en skerp. Toe ek die motor se venster oopdraai, was dit ’n verwese straatkind wat die klank nageboots het.

Hy vertel hy het onder ’n brug daar naby grootgeword en as die ambulanse verbyjaag, het hy hul klanke begin naboots sodat hy darem ’n aalmoes as ’n tipe spot-voël by die verkeersligte kon verdien.

Papegaaikind met sy antieke gesig, twee Griekse teatermaskers, ’n pendulum wat tussen komedie en tragedie swaai.

Dit was hartseer, want dié Dickensiaanse kind se sinjaalgeluid het eintlik sy eie lewe se noodsein weergalm. Dit was die enigste geluid in die leë strate daardie dag, die res ’n ademlose klankloosheid, Tafelberg as grafsteen in die agtergrond.

Nog ’n eindelose troostelose plek op ’n Sondagmiddag, seker soos baie ander plattelandse dorpies, is Trompsburg in die Vrystaat. Veral in die winter, as die kleurlose flouwit lig soos verbleikte, deursigtige waterverf agter vuil glas bewegingloos in die niet hang.

Die vriesende lug wat uit die strate opslaan en jou laat voel asof jy jou kleed uitgetrek het en kaalvoet oor modderige strate vol gate struikel. Huise se gordyne is toegetrek, ’n hees hond blaf iewers, maar die voëls is stom.

By die motel buite dié dorp is die tafels gedek met wit linne, maar die eetkamer is leeg, die atmosfeer skemeraand. ’n TV blêr iewers dof.

In die Ladies’ Bar het Rodriguez se “Inner City Blues” ophou speel. Die uitsig is oor ’n kolossale hospitaal waarvan die ligte soms dag en nag brand.

Teen die mure is daar handtekeninge, een van hulle is dié van die skrywer Alexander Strachan. Ek is die enigste klant.

’n Katspoegie van Trompsburg is Springfontein, met sy eie eensame verhaal. Corrie Herbst vertel dit was op sy dag ’n bedrywige dorp met ’n besige
stasie.

“Baie jare terug,” vertel hy, “ongeveer 1972, het ons daar algemene instandhoudingswerk aan die spoorweghuise en ander geboue gedoen. Ek kan onthou toe die messelaar die rak om die kaggel by een huis afhaal, het daar ? brief uitgeval.

“Dit was van ’n Engelse soldaat wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het, waarin hy vir sy meisie in Engeland skryf: ‘What is the story about you being pregnant? O! What a hell of a life we’re living in.’

“Nodeloos om te sê sy het nooit die brief gekry nie.”

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.