Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Werkloses en armes in die land raak deursigtig
Herman Lategan

diafaan b.nw. Deurskynend, so fyn en teer dat dit ligstrale deurlaat: Die diafane vlerke van die naaldekoker. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

'n Mens wil nie oogkontak maak nie. Jou geld is ook skaars. In die Kaap het die getalle duidelik vermeerder – bedelaars by verkeersligte.

Hul kop en skouers hang. Amper soos die beeld van Christus aan die kruis. Die woorde “Eli, Eli lama sabachthani” eggo deur die lug.

Miskien hou hulle 'n kartonplakkaat op met soebatwoorde wat vir werk vra. Daar is ook veel meer kinders wat geld soek. Hulle is honger.

In Seepunt stroom hulle Sondae na die promenade, want hulle weet daar is dan meer mense. Wat sê dit van 'n samelewing as die kinders wat bedel toeneem? Leef ons in Charles Dickens se tye?

Voor my het ek gesien hoe iemand uit sy motor se oop venster 'n halwe hamburger vir een seuntjie gee. Die ruit is vinnig toegemaak. Met die druk van 'n knoppie is dit “ons” versus “hulle”. Hulle daar, ons aan die ander kant.

In die Vrystaat het hierdie rubriekskrywer skoolkinders gesien wat dun soos bidsprinkane is. Hul oë vergroot soos ruimtewesens en geaksentueer teen die maer gesigte.

Die dorpe is vervalle en vuil, die kans op werk nul. Donderweer, plastieksakke wat waai en honde wat blaf die enigste geluide.

In Illovo, Johannesburg, het ek mans en vroue op warm sypaadjies sien sit. Die hele dag. Geen energie meer om aalmoese te vra nie. Futloos en emosioneel verlam.

Die Service Dining Rooms, 'n sopkombuis in die hart van Kaapstad, laat weet hulle kan skaars byhou. Hulle soek nog hulp, die honger mense raak net meer.

Oorweldig met slegte nuus word ons afgestomp. Die werkloses en armes raak deursigtig, die doodsroggel van dié land laat jou jou ore toedruk. Jy draai jou rug op die slagvelde van verarming.

In 'n artikel op die webwerf The Conversation, getiteld “South Africans De­scribe the Pain of Unemployment”, skryf die sielkundige dr. Melinda du Toit, van die Universiteit van Johannesburg, oor die uitmergelende psigologiese uitwerking van werkloosheid.

Sy het met mense tussen die ouderdomme van 20 tot 64 in Orange Farm en Boipatong gepraat. Hulle is al meer as ses maande sonder werk.

Werkloosheid word deur hulle ervaar “as 'n groot vullishoop vol slegte dinge, 'n mensgemaakte graf, 'n swart hart vol seer en pyn. Die hart is gebreek, kwaad en hartseer”.

Die stigma rondom 'n gebrek aan werk is verdoemend, omdat die gemeenskap dink jy is lui. Hierdie omstandighede het sielkundige nagevolge wat kan lei tot verslawing en erge gemoedsversteurings.

Sy laat weet per e-pos: “Die mees algemene gemoedsversteurings is depressie en post-traumatiese gemoedsversteurings. Kognitiewe onderontwikkeling is ook algemeen as gevolg van omgewingsontneming. Dit het verreikende gevolge op veral kinders se ontwikkeling.”

Dit is maklik om die vinger na absurde verkiesingspatrone en die regering te wys. Maar het ons soos Dracula geword? Hy kan sy eie weerkaatsing nie in 'n spieël sien nie – omdat dit 'n weerspieëling is van die geesteslewe om hom.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Werkloosheid  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.