Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Woorde vir jou vae, verdrietige emosies

dynserig b.nw. 1 Nie duidelik waarneembaar, skoon of helder nie. Die lug is dynserig aan die horison. 2 Onduidelik, onhelder, newelig, vaag. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Indien jy van nuwe woorde hou, besoek die webwerf en YouTube-kanaal The Dictionary of Obscure Sorrows. Hier sal jy oor verdrietige emosies lees wat mense soms vaagweg ervaar, soos dynserige skimbeelde, maar hulle het nie ’n woord daarvoor nie.

Al van “altschmerz” gehoor? Dit is as jy moeg is van dieselfde ou probleme wat jy nog altyd gehad het. Vervelige karakterfoute wat al jare lank knaend in die agtergrond soos ’n radio se wit geruis suis.

Dit laat jou emosioneel verlam, met niks interessants meer om oor te tob nie. Dit is dan die regte tyd, skryf John Koenig, die stigter van dié woordeboek, om daardie ou leed te laat gaan en vir nuwe vars pyn in die agterplaas te gaan soek, smarte wat jy dalk lank terug begrawe het.

“Wytai?” Wanneer ? spesifieke eienskap van die moderne samelewing jou skielik tref as verspot en grotesk, soos om melk te drink, of orgaanoorplantings, lewensversekering en selfs fiksie. Dit is deel van ’n vae geroesemoes van absurditeite wat oor die aardbol weerklink sedert ons voorsate uit die slym gekruip het.

“Lachesism” is die behoefte om deur ’n ramp getref te word. ’n Vliegtuigongeluk, om alles te verloor in ’n brand, om oor ’n waterval neer te stort. Dit sal ’n kinkel in jou andersins sagte en soetvloeiende lewenskabel veroorsaak, sodat dit harder, tog buigsaam en ook polsend is.

Dit moet nie nét soos ’n voorafvervaardigde balk wees wat skaars die gaping tussen die een gedeelte van jou lewe en die ander een vul nie. Jy soek na voleindiging.

Klink “nodus tollens” bekend? Dit is die besef die narratief van jou lewe maak geen sin meer nie. Alhoewel jy gedink het jy volg die plot van jou eie storielyn, bevind jy jouself telkemale in paragrawe wat jy nie verstaan nie, wat nie eens deel van dieselfde genre is nie.

Dit beteken jy moet teruggaan en dieselfde dele herlees omdat jy oor hulle geblaailees het om vinnig by die goeie gedeeltes uit te kom. Eers teen die einde besef jy jy was veronderstel om jou eie avonture te skep.

Die woord “sonder” is die besef dat elke lukrake verbyganger in die straat besig is om ? lewe net so kompleks en intens soos joune te lei. Hul lewens word ook bewoon deur ambisie, vriende, roetines, bekommernisse, ’n tipe maalstroom van gekheid.

Die lewe is soos ’n epos (verhaal) wat onsigbaar rondom jou ontvou, ’n miershoop met diep ondergrondse uitgebreide tonnels en deurgange na duisende ander anonieme lewens wat jy nie eens weet bestaan het nie.

Jy mag dalk net een keer met sulke mense vlugtig kontak maak – as figurant in die agtergrond in ’n restaurant besig om koffie te drink, of as deel van ’n vormlose massa verkeer op die hoofweg, waar vreemdelinge mekaar vir ’n paar sekondes deur hul vensters bespied – en daarna nooit weer nie.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.