Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Wroeging, wag op iets wat net nooit kom

jaloersreën s.nw. Reën wat nie eweredig val nie, maar in strepe trek of in los buitjies uitsak sodat die een boer wat niks gekry het nie, dikwels jaloers word op sy buurman by wie heelwat reën geval het. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

In die Noord-Kaap en omtrekke is boere, hul gesin en werkers se siel besig om te verskrompel onder die hardvogtige son.

Diere vrek. Daar is geen geld in die bank oor nie. Op baie plase het dit laas in 2016 gereën.

In Volksblad haal die joernalis Anena Burger vir Chris van Beljon van Boere Droogtehulp SA aan: “Nog nooit was die emosionele droogte soos nou nie,” sê hy.

Volgens Van Beljon sukkel baie boere om te verstaan hoekom hulle nie reën kry nie, terwyl daar op sommige plase in hul onmiddellike omgewing by tye goeie neerslae uitsak.

As jy in ’n voorstedelike (of stedelike) borrel woon en jy dink alles is fynpikkewyn, want Woolies is net om die draai, loer gerus na die skokkende dokumentêre program op Showmax met die eenvoudige titel Droogte.

Kyk na die ongelooflike kamerawerk wat oor bleek maanlandskappe sweef en die onderhoude met boere van alle kleure. Een huil. Sy vrou hou hom vas.

Burger sê: “Dit is erg, so gaan dit al vir jare. My pa is een van daardie boere (in die dokkie) in die Sutherland-Karoo. Dis sy oorblywende skape (300 oor van 1 500) wat daar in die een toneel aangejaag word.

“Loeriesfontein het anderdag sy eerste ligte bui gehad. Hier in die Noord-Kaap praat die mense van ‘die reën het sy spoor gemaak’ en dit beteken dat die reën weer gaan kom.” Maar wanneer?

Ons praat oor die verskillende name vir reën: “Ons streektaal is mooi hier. Troosbuie, jaloersbuie en genadewater.

“Die ding met die reën is dit is so ’n emosionele stryd. Ek weet nie hoe dit voel om aan depressie te ly nie, maar ek dink daardie wroeging en gewag na iets so broodnodig wat net nooit kom nie, grens waarlik aan hoe depressie moet voel. Jy voel dit aan jou vel.

“Dit sypel deur jou are en jy kom op ’n punt waar jy nie meer weet of jy voel en of jy net bestaan nie. Ek hoop dit help jou om dié moedeloosheid te verstaan.”

Hierdie rubriekskrywer het met mense in Namakwaland gepraat wat vertel vele vroue leef in vrees wanneer hul mans lande toe gaan; selfdood gebeur gereeld. Hulle kán nie meer nie.

Een boer het sy familie in sy bakkie gelaai en bank toe gery met die plaas se voordeursleutels. Hy het reguit na die bankbestuurder geloop, die sleutels op sy lessenaar gesit, omgedraai en weggery.

In Droogte sien jy hoe verskroeide karkasse, styf van die rigor mortis, in leë plaasdamme gegooi word. Die mense wat praat oor die oneindige ellende het oë wat droefgeestig is en ’n gesig waaraan jy wil streel en sê: “Alles sal regkom.”

Hulle sal jou nie kan hoor nie. Die gehuil van honger diere is oorverdowend.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.