Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herodes by die kleuterskool

Wat rook die ANC?

Ons weet dat die ANC ’n gepolariseerde organisasie is wat verlam word deur strydende faksies, maar ná die aankondiging dat Supra Mahumapelo, die gediskrediteerde voormalige premier van Noordwes, nou die hoof van die ANC se politieke skool gaan word, weet ons dat die ANC hoog in die takke is.

Johann Maarman

Mahumapelo se aanstelling wys duidelik dat Cyril Ramaphosa omring is deur ’n faksie van gewondes – sikofante van Jacob Zuma. Hulle wou Ramaphosa nooit as ANC-president gehad het nie en gaan die volgende vier jaar die lewe vir hom so pynlik moontlik maak.

In die faksie van die gewondes is senior ANC-leiers soos adj.pres. David Mabuza, Ace Magasule, Jessie Duarte en Mahumapelo.

Dit is mense wat nie eens die dolk van agter in die rug druk nie, maar eerder vir die borskas mik.

Hoe op dees aarde kan Mahumapelo hoof word van ’n politieke skool? Sy werksbeskrywing lui dat hy ’n nuwe geslag leiers vir die ANC moet kweek.

Hoe kan ’n man soos Mahumapelo, ’n bevlekte politikus met soveel geraamtes in sy kas, ’n nuwe geslag ANC-leiers kweek? Hier is ’n man wat beskuldig word van korrupsie, tenderbedrog en bedrog, en nou is dit sy verantwoordelikheid om jong leiers te skaaf.

Dit is om soos Herodes hoof van ’n kleuterskool te maak, want jy maak nou eintlik vir wolf die skaapwagter.

Wat gaan hy hierdie nuwe geslag nuwe leiers leer? Hoe om tenders te bekonkel, hoe om ’n beurs van meer as R1 miljoen vir jou seun by ’n vliegskool te bekom, hoe om ’n organisasie te ondermyn en hoe jy kaders ontplooi hoewel hulle nie oor die ervaring en kwalifikasies beskik nie?

Mahumapelo is deur sy eie mense uitgestoot en dit het gewelddadige betogings gekos om hom uit sy stoel te kry. Selfs toe die skrif aan die muur was en die ANC die laksmanne ingestuur het om sy lot te beslis, het hy hardnekkig vasgeskop.

Mahumapelo het geveg tot die laaste en toe hy besef hy kan nie meer die gety keer nie, wou hy selfs wraggies een van sy gabbas aanwys as premier.

Die ANC het ’n geskiedenis dat hy middelmatigheid beloon.

Mahumapelo het nou nie die aarde beweeg as premier nie, maar hy het soveel mag gehad omdat hy in die Zuma-kamp was.

As deel van die sogenaamde premierliga kon hulle maak en breek soos hulle wil. Hulle het immers die beskerming van Nommer Een gehad omdat hulle sy rug gekrap het.

Dit is om soos Herodes hoof van ’n kleuterskool te maak, want jy maak nou eintlik vir wolf die skaapwagter.

Toe Kgalema Motlanthe verslaan is deur Jacob Zuma in die wedloop om die ANC se presidentskap, is daar met groot fanfare aangekondig dat Motlanthe hoof van die ANC se politieke skool sou word. Daarvan het dadels gekom en dit was maar net versiersuiker wat die ANC op die koek gestrooi het. Ons weet dit was maar net ’n poging om Motlanthe na die periferie uit te skuif en kunsmatige eenheid voor te hou.

Onthou: Tony Yengeni, veroordeelde bedrieër, was ook op ’n kol die hoof van die ANC se politieke skool. Ten spyte daarvan dat ’n bedrieër soos Yengeni uit die ANC geskop behoort te gewees het, is hy in die organisasie bevorder.

Dit is wat die ANC se beheerbehepte mandaryne met lojale kaders doen: Hulle word beloon. En dit is die ANC se vrot kol.

’n Mens weet nie wat in Ramaphosa se agterkop is met die skuif van Mahumapelo na hoof van die politieke skool nie, maar ’n mens hoop Mahumapelo word maar ’n gestrande walvis, want vir hom kan jy nie vertrou so ver soos jy ’n baksteen kan gooi nie. En dis nie baie ver nie.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Anc  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.