Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heropen die ekonomie só
Mense staan vandeesweek tou by die departement van arbeid in Kaapstad om hul eise by die Werkloosheidversekeringsfonds in te handig. Foto: getty images

Ek glo om stil te bly oor die staat van inperking en nie voorstelle te maak oor hoe ons uit hierdie krisis moet kom nie, sal onverantwoordelik wees.

Ons moet ons ekonomie weer aan die gang kry, want ons almal se lewens hang daarvan af.

Ons is dalk ’n klein maatskappy, maar ons het ’n groot reikwydte – en ons kliënte het ’n selfs groter reik­wydte.

Ons het ook ons vinger op die pols van die ekonomie, en daarom wil ons ons stem voeg by ander, onder meer die van die PSG-groep.

Ons stem saam, meneer die President, dat u en u kabinet gelukgewens moet word met die vinnige en beslissende manier waarop die pandemie getakel is.

In my lewe het ek nog nie ’n meer hardwerkende kabinet gesien nie.

Dit is goed om leierskap in aksie te sien, dit is goed om sien hoe ons land vinnig en doelgerig kan optree, en dit is goed om die solidariteit in ons land te sien.

Maar die staat van inperking veroorsaak ernstige skade aan wat oor is van ons ekonomie.

Ons oorlewing en voortbestaan hang af van of en hoe vinnig die ekonomie herstel.

Oorweeg dié nege voorstelle

Meneer die President, die enigste manier om volhoubare werksgeleenthede te skep is om ’n omgewing te skep waarin entrepreneurs kan floreer.

Want net hulle kan volhoubare werksgeleenthede skep. Tans is dit juis hierdie mense wat die meeste skade aangedoen word.

Voor ons voorstelle maak oor ’n sake- of entrepreneursvriendelike omgewing, wil ek eers graag voorstel dat die regering die volgende doen:

1 Staak die finansiering van staatsondernemings wat verliese ly. Maak skoon by sulke entiteite, of raak ontslae van hulle, of likwideer hulle of maak hulle toe. Ook, versnel die ontbondeling van Eskom.

2 Verminder die staat se salarisrekening (baie dankie aan die kabinet wat reeds ’n salarisvermindering van 30% aanvaar het).

3 Skort minimum lone vir vyf jaar op. Dit druk werksoekers uit die mark en maak dit moeilik om arbeidsintensiewe projekte van die grond af te kry.

4 Vergeet eers van radikale ekonomiese transformasie. Dit lei die aandag af, belemmer vooruitgang, en verryk ’n klein, selektiewe groepie wat reeds talle kere verryk is.

5 Verwyder vertragings by spektrumtoewysing en onafhanklike kragvoorsieners.

6 Maak dit makliker om sake te doen, en gee mynmaatskappye die reg om krag op te wek.

7 Hoewel die belastinginkomste dan aansienlik minder gaan wees, verlaag maatskappybelasting tot 20%, en skep aansporings in die vervaardigings- en finansiële sektore.

8 Beëindig die narratief van onteiening sonder vergoeding.

  • Gee titelaktes aan alle informele inwoners op staatsgrond. Volle eienaarskapsregte sal enorme welvaart ontsluit, wat werklik aanvraag sal stimuleer.
  • Die staat besit ’n groot deel van bewerkbare grond in Suid-Afrika. Dit is dalk sinvol vir die staat om in vennootskap te gaan met groot suksesvolle, kommersiële boere om dié grond te gebruik vir kosproduksie (vir verbruik in Suid-Afrika sowel as vir uitvoer).

9  Maar meneer die President, die belangrikste van alles is om ’n sakevriendelike omgewing te skep.

Raak ontslae van ‘gangsters’

Wat is ’n sakevriendelike omgewing?

Dit is ’n verwelkomende omgewing, een wat begrip het daarvoor dat klein en mediumgrootte ondernemings se belasting die staats se salarisrekening betaal.

Dit is ’n belastingvriendelike omgewing. Dit is ’n veilige omgewing – een met doeltreffende polisiëring.

Dit is ’n omgewing sonder korrupsie, of dan minstens met so min as moontlik korrupsie.

Dit gaan die verstand te bowe dat drie, vier jaar nadat ons die grootste bedrog- en korrupsiesake in Suid-Afrika gesien het, niemand nog vervolg is nie, niemand enige tronkstraf uitgedien het nie.

Dit is welbekend dat staatskaping Suid-Afrika, reeds ’n arm land, duisend miljard rand gekos het. Dit is dubbeld soveel as die korona-hulppakket.

Die Steinhoff-bedrogspul, die grootste nóg in Suid-Afrika, het die land R300 miljard gekos (byna soveel soos die hulppakket), maar niemand is vervolg nie.

Meneer die President, raak ontslae van die gangsters in jou kabinet – jy en hulle weet wie hulle is. Ek ys om te dink hoe hulle lippe aflek om hul hande te lê op die hulppakket van R500 miljard.

Meneer die President, ’n sakevriendelike omgewing is een wat beleggings sal lok, groei sal stimuleer, en, belangriker nog, wat belastinginkomste sal genereer om die enorme skuldrekening te vereffen waardeur ons nou in die gesig gestaar word.

Ons lewens hang daarvan af

Meneer die President, terwyl ek nou aan die gang is, dit gaan die verstand ook te bowe hoekom ons Kubaanse dokters na die land moes bring teen ’n koste van R1 miljard.

Tans is daar dokters in Suid-Afrika wat verhonger.

Dokters wat nie hul huur kan betaal nie, dokters wat sukkel om kos op die tafel te sit.

Hoekom oorsee gaan om dokters te kry as ons hier in Suid-Afrika kan begin?

Laastens moet ons die ekonomie so gou moontlik heropen.

Soos sake staan, gaan ons ’n enorme lewensverlies hê. Indien dit nie weens Covid-19 is nie, dan weens hongersnood, onrus, misdaad en ’n legio ander chroniese siektes.

Ons moet die ekonomie heropen, want uiteindelik hang ons lewens daarvan af.

  • Hierdie is ’n vertaalde en effens verkorte weergawe van Du Toit se slotopmerkings tydens ’n webinaar oor Covid-19 wat hy verlede week aangebied het. Kyk die video hier.

Du Toit, ’n stigter van Coronation Fund Managers, is voorsitter van Rootstock Investments, en was ’n direkteur van onder meer Old Mutual en PSG.

Meer oor:  Ekonomie  |  Heropening  |  Gangsters  |  Opheffing  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.