Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herskikking in 2021 te wagte

Woensdag is tussenverkiesings in 95 wyke landwyd gehou.

Willie Spies

Dit is die meeste tussenverkiesings wat tot nog toe op een dag gehou is sedert die huidige munisipale bedeling in 2000 in werking getree het.

Afgesien van die 95 wyke is daar ook in twee Noord-Kaapse munisipaliteite, Renosterberg in die Petrusville-Vanderkloof-Philipstown-omgewing en Pho­kwane in die Hartswater-omgewing, verkiesings gehou om volledige munisipaliteite te herkies nadat die vorige rade­ misluk het en onder administrasie geplaas is.

In dié munisipaliteite is ook, behalwe vir die wyksraadslede, bykomende raadslede op grond van proporsionele verteenwoordiging aangewys.

In dié twee munisipaliteite het die ANC wel die bewind behou, ondanks sy bewese onvermoë om dit te bestuur.

Die ANC-steun het gedaal, maar skynbaar was die enigste wenner in albei­ gevalle die EFF, wat sterk ge-groei het. Die DA het in albei munisi­paliteite steun aan die VF Plus afgestaan.

Wat die 95 wyke betref, het die ANC voor die tussenverkiesings 67 wyke gehou, die DA 24 en die IVP vier.

In Woensdag se tussenverkiesings het die ANC 70 wyke verower, ’n wins van drie wyke. Die IVP het een wyk bygekry en hou nou vyf wyke.

Eerstens kan ’n verdere herskikking van die opposisiepolitiek in 2021 se landwye munisipale verkiesing verwag word.

Die DA was die groot verloorder. Die party het agt wyke afgestaan en kon slegs 16 van die 24 wyke behou. Daarteenoor het die VF Plus ’n wyk in Potchefstroom gewen, een proporsionele raadslid in Phokwane bygekry en in eMalahleni sterk gegroei in ’n wyk wat die DA naelskraap behou het.

Die DA het nie net steun onder Afrikaner-kiesers afgestaan nie. Die party het ’n setel elk aan Patricia de Lille se Good, al Jama-ha en die Patriotic Al­liance afgestaan. Al drie partye kalf DA-steun onder die party se eens lojale bruin kieserskorps weg.

Tussenverkiesings is ’n waardevolle aanduider van wat in komende verkiesings verwag kan word. Uit Woensdag se tussenverkiesings het reeds so ’n paar tendense na vore gekom.

Eerstens kan ’n verdere herskikking van die opposisiepolitiek in 2021 se landwye munisipale verkiesing verwag word.

Die kans is goed dat die DA volgende jaar minder munisipaliteite gaan regeer en waar die party wel regeer, sal dit met die hulp van koalisievennote moet wees.

Afrikaner-kiesers keer in groeiende getalle terug na die VF Plus, terwyl ’n groeiende getal bruin en Indiër-kiesers bereid is om die DA te verruil vir kleiner nispartye. Die verkiesing van John Steenhuisen tot DA-leier het beslis nog nie enige uitwerking om die skade van Mmusi Maimane se leierskap en die vervreemding van De Lille te neutraliseer nie.

Die kans is goed dat die DA volgende jaar minder munisipaliteite gaan regeer en waar die party wel regeer, sal dit met die hulp van koalisievennote moet wees.

Tweedens lyk dit of die oorgrote meerderheid van swart kiesers die ANC aanhou steun, ondanks grootskaalse korrupsie, wanbestuur en onbekwaamheid. In nagenoeg 50 van die 70 wyke wat die ANC Woensdag gewen het, het sy persentasie steun toegeneem.

In die ongeveer 20 wyke waarin die ANC se persentasie stemme gedaal het, lyk dit of slegs die EFF en in ’n mate­ ook die IVP voordeel getrek het, maar nie die DA en ander opposisiepartye nie. Dit lyk of die ANC volgende jaar beter gaan vaar in die verkiesing as in 2016, ondanks alles.

Derdens lyk dit of die EFF nie gaan verdwyn nie.

Laastens blyk dit dat die toekoms van opposisiepolitiek geleë is in sterk binne- en buiteparlementêre koalisies van beginselvaste partye en burgerlike instellings.

  • Spies is ’n prokureur en voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Willie Spies  |  Politieke Partye  |  Tussenverkiesings  |  Partye  |  Da  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.