Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hertzoggie is 90, maar nee vir Ace-tertjie
Charles Smith

Ek kry vandag lekker skaam vir myself. Daar koop ek ’n Franse croissant (ek kan die botterbommetjie se grênd Franse naam nie uitspreek nie!) terwyl ’n kosbare Afrikaanse tertjie dié week 90 word.

Lig jou hoed, kêps en voorskoot (nee wag, nie só hoog nie, tant Miempol!) vir die hertzoggie wat die week ’n mylpaal bereik het. Die handtertjie met appelkooskonfyt en klapper se ontstaan is ’n baie mooi storie.

Die hertzoggie, of jêmtertjie, soos die ou Sappe seker sê wie se tong aan niks sal raak wat met die van Hertzog verbind is nie, het ’n Vrystaatse stertjie aan die storie. Op ’n vreemde manier moet elke byt aan die tertjie jou nie aan die Natte en die Sappe herinner nie, want genl. J.B.M. Hertzog was ’n stoere Nat wat ook die vader is van segregasie. Dié heerlike tertjie moet jou eerder aan vroue- en genderregte herinner.

Ishmail Mahomed het op Facebook die verjaardag van die hertzoggie uitgelig en almal herinner dat Hertzog die eerste baba in Suid-Afrika was wat met die keisersnee gebore is en dit deur ’n transgender dokter. Dr. James Miranda Steuart Barry was ’n chirurg in die Britse weermag wat in die Kaap gebaseer was. Hoewel sy haar hele lewe as ’n man geleef het, is sy as Margaret Ann Bulkley gebore. Dit het eers ná haar dood aan die lig gekom dat “hy” eintlik ’n vrou was.

Op 19 Mei 1930 het Hertzog as premier van die Unie van Suid-Afrika stemreg aan wit vroue toegeken.

Op 19 Mei 1930 het Hertzog as premier van die Unie van Suid-Afrika stemreg aan wit vroue toegeken en gesê wit vroue hoef nie meer net swanger en kaalvoet agter die stoof diens te doen nie. Die tertjie is na hom genoem. Die vroue van Smithfield, waar Hertzog vir 33 jaar as LP gedien het en waar die skool en ’n straat steeds na hom genoem is, het glo gesê die drie lae van die jêmtertjie is simbolies. Die kors was die land, die klapper en konfyt dui op die “soet mag van wit vroue” en die X bo-op wys op die vroue se kruisie op die stembrief.

Die Kaapse Maleiers, wat die tertjie eerste in die 1920’s gebak het nadat Hertzog belowe het om bruines én vroue stemreg te gee, maar op die nippertjie slegs stemreg aan wit vroue gegee het, het die tertjie se naam na tweegevreetjie verander met bruin en pienk versiersuiker op.

Ek het met hertzoggies grootgeword. Die lekkernye was by bidure op die tafel met die skons met fyn biltong, souttert en koeksisters, almal trotse erfenis-eetgoed. Maar ek het nooit die storie agter die tertjie geken nie. Ek onthou hoe oupa Frans vertel het hoe ’n kommando perderuiters die Nasionale Party-leier in Smithfield met hertzoggies ingewag het.

As ons ’n hertzoggie eet, onthou dat daar ’n trotse en veelbewoë geskiedenis in elke hap is. Dalk kan ons die hertzoggie en tweegevreetjie in ’n reënboogkoekie versoen en erkenning aan al ons vroue gee.

Maar, o koek, vir ’n ANC-tertjie sien ek nie kans nie. Ons eet elke dag Ace- en Zuma-baksels en dit is versier met korrupsie.

Dit is giftig.

Meer oor:  Charles Smith  |  Keisersnee  |  Vroueregte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.