Dawie hoop vir pres. Cyril Ramaphosa se part dat hy sy feite behoorlik agtermekaar het met die bewering dat die openbare beskermer (OB) bankstate rakende die CR17-veldtog onregmatig bekom het.
Voor Dawie verduidelik, moet dit benadruk word dat die huidige OB onteenseglik onbevoeg is. Daar is ’n rits verdoemende hofbevindings teen adv. Busisiwe Mkhwebane wat dié punt afdoende bewys en elke dag wat sy in haar pos aanbly, berokken sy dié waghondinstelling al hoe meer skade.

Dawie
Desondanks rus daar ’n grondwetlike verpligting op die president en sy regering en alle staatsinstellings om die aansien, onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van alle hoofstuk 9-instellings, waaronder die openbare beskermer, te help verseker.
Sou dit dus blyk dat Ramaphosa die OB sonder gronde van onregmatige optrede beskuldig het, kan dit beteken dat hy die Grondwet oortree het.
Dis die einste strik waarin dr. Penuell Maduna, indertyd minister van minerale en energie, op 18 Junie 1997 getrap het. Maduna het die voormalige ouditeur-generaal, Henri Kluever, beskuldig dat hy ’n diefstal van R170 miljoen uit die Strategiese Brandstoffonds toegesmeer het. Maduna het dit destyds só gestel: “Ek het die vyeblaar weggepluk.’’ En later: “Ons kan nou sien wat agter die vyeblaar gelê het, die diefstal van R170 miljoen.’’
Maduna se optrede is na die OB verwys, wat toe ook bevind het dat hy met sy ongegronde bewering die Grondwet oortree het. Adv. Selby Baqwa, indertyd die OB, het egter gesê hy is nie by magte om ’n straf voor te skryf nie, en dié taak aan die parlement oorgelaat.
Sy slotwoorde aan die ad hoc-komitee wat oor dié straf moes besluit, was: “Parlementariërs as die hoogste verteenwoordigers van die kiesers het die inherente magte om die noodsaaklike tugstappe voor te skryf om die kiesers te verseker dat niks toegesmeer of onder die mat ingevee word nie. Dít is wat, na my beskeie mening, van hierdie komitee en uiteindelik die parlement verwag word.”
Uiteraard sou die OB nie Ramaphosa se uitlating kan ondersoek nie, omdat sy self ’n party tot die kwessie is. Maar sou dit blyk dat dit wel ongegrond is, sal die parlement Ramaphosa regstreeks tot verantwoording kon roep, sonder dat die OB die saak ondersoek.
In so ’n geval moet Ramaphosa maar hoop dat hy steeds die ANC-koukus se steun agter hom het.
Nogmaals: Tree nóú op teen Mkhwebane, en voorkom dat dié geskiedenis hom herhaal.
Daar is egter ook ’n ander kant van die munt, en dít is dat ons te make het met ’n openbare beskermer wat oënskynlik sélf alles in haar vermoë doen om die waardigheid en aansien van haar amp tot op die grond af te breek.
Die vraag is watter plig staatsinstellings dan het om – in die woord en gees van die Grondwet – positief op te tree ten einde die waardigheid en aansien van die amp van openbare beskermer teen Mkhwebane self te beskerm.
Dit is hier waar die parlement wéér ter sprake kom. Die speaker en die Nasionale Vergadering (NV) durf nie hul rol om Mkhwebane in haar spore te stuit onderskat nie, want die geloofwaardigheid van die speaker en die NV is in dié saak ook op die spel.
In die konstitusionele hof se bevinding oor die hantering van die OB se Nkandla-verslag in 2016 is onder meer bevind dat die NV self in gebreke gebly het om Jacob Zuma verantwoordbaar te hou en só “strydig met die Grondwet” opgetree het.
Nogmaals: Tree nóú op teen Mkhwebane, en voorkom dat dié geskiedenis hom herhaal. Om Baqwa weer aan te haal: “Parlementariërs as die hoogste verteenwoordigers van die kiesers het die inherente magte om die noodsaaklike tugstappe voor te skryf . . .”