Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het Cyril toe sy mandaat gekry?

Met die verkiesing agter die rug is die groot vraag wat nou vir die ANC, wat minder as 60% van die stemme getrek het. Die politieke nagevolge was reeds sigbaar voordat die uitslae amptelik aangekondig is.

Ralph Mathekga

ANC-lede het uiteenlopende verduidelikings vir hul vertoning gehad. Die veldtoghoof, Fikile Mbalula, het die eerste salvo afgevuur deur te sê as dit nie vir Cyril Ramaphosa se persoonlike rol was nie, sou die party onttroon word. Volgens hom sou die steun tot 41% onder Nkosazana Dlamini-Zuma gedaal het. Ace Magashule, sekretaris-generaal, was dadelik op sy perdjie en het gesê die ANC se vertoning is te danke aan die werk van vrywilligers en partystrukture. Met ander woorde, daar is net ’n “ons” in die ANC, nie ’n “ek” nie.

Die kwessie ter sprake is dat as Ramaphosa die krediet kry dat hy die ANC gehelp het om die mag te behou, hy meer ruimte gegun moet word om sy “hervormingsagenda” in werking te stel. Ons kan ophou voorgee dat ons nie weet wat daardie agenda is nie. Deur die ANC aan ontevrede kiesers te “verkoop”, is hy veronderstel om die reg te verdien het om sy ekonomiese hervormings in werking te stel sodat Suid-Afrika die pad van ontwikkeling en ekonomiese voorspoed kan betree.

Die blote feit dat daar iets genaamd die Ramaphosa-agenda is, impliseer dit verskil van die ANC s’n.

Mbalula en Magashule se konflik kan gebruik word om die twee wêrelde binne die ANC te verduidelik. Mbalula meen Ramaphosa verdien om ’n sterk rol in besluitneming in die regering en vir Suid-Afrika se pad vorentoe te speel. Hy wil hê die ANC moet Rama-phosa se wense eerbiedig, terwyl Magashule volhou die sege behoort aan die ANC as kollektief. Volgens Magashule moet die ANC-agenda – wat in die party se manifes weerspieël word – hoogty vier oor enige ander agenda omdat dit ook vir die verkiesingsege gesorg het. Dié twee mededingende agendas in die ANC is nie ’n akademiese debat nie, maar sal die regering wesenlik oor die volgende vyf jaar beïnvloed.

Die kern van die konflik is die stryd deur groepe binne die ANC om eienaarskap te neem van die verkiesingsmandaat wat verlede week bekom is.

Die kern van die konflik is die stryd deur groepe binne die ANC om eienaarskap te neem van die verkiesingsmandaat wat verlede week bekom is. Die vraag wat ek nie ten volle kan antwoord nie, is wie het werklik hierdie politieke mandaat bekom – die ANC, Ramaphosa, of albei?

Volgens Magashule is die mandaat aan die ANC gegee. Dit is korrek in die sin dat mense vir die party stem, nie vir die president nie. Maar Ramaphosa sou nie die “gesig” van die veldtog gewees het as hy geen rol in stempatrone sou speel nie. Dan sou plakkate gesigte van al die partylede vertoon het. Mbalula het ’n punt beet as hy sê die ANC het by Ramaphosa se integriteit baat gevind. Dit beteken die grootste deel van die mandaat wat die party bekom het, kom Ramaphosa toe. Mbalula én Magashule is dus albei in ’n mate reg.

Magashule is reg dat mense vir die ANC gestem het omdat die party in die verkiesing meegeding het en nie Ramaphosa as ’n individu nie. Mbalula is reg as hy sê was dit nie vir Ramaphosa as die gesig van die party nie, sou minder mense die moeite gedoen het om die ANC op die stembrief te vind.

As ANC-lede nie kan saamstem oor die redes vir hul vertoning by die stembus nie, hoe kan hulle oor beleidsresponse ooreenkom? Diegene wat glo Ramaphosa is die superster van die verkiesing, meen ook hy moet toegelaat word om die ANC van homself te red en dinge deur hervorming te verbeter. Die ander kamp glo die ANC moet volhou met die koers wat hy ingeslaan het!

Die konflik tussen dié twee benaderings sal beleidsimplementering in die regering beïnvloed. Daar is geen maklike oorwinnings in hierdie scenario nie..

Meer oor:  Ralph Mathekga  |  Mandaat  |  Verkiesing 2019  |  Anc-Mandaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.