Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het DA De Lille ooit liefgehad?
Johann Maarman

Ek glo aan die mantra dat dit goed is om af en toe die verlede te besoek, maar dat ’n mens nooit in die verlede moet bly leef nie, want dit maak net die deur oop vir bitterheid, haat en verwyte.

Maar die DA se koppestamp met Patricia de Lille, self ’n politieke rissiepit, laat ’n mens tog die vraag vra: Het hy haar liefgehad, of is sy gebruik en misbruik om die DA se agenda te bevorder en word sy nou onder die bus gegooi?

Die DA het ’n geskiedenis as politieke egbreker. Sy liefdesverhouding met sterk individue en partye hou net ’n bepaalde tyd en dan beland die huweliksbootjie op die rotse.

Kyk maar na sy flirtasie met Lindiwe Mazibuko. Mazibuko was gesalf met die liberale olie en sy is in die wieg gelê as die vrou wat die DA na die Uniegebou sou lei. Wat die DA betref, is sy gekerf uit ebbehout en ivoor. Mazibuko was intelligent, dinamies, ’n uitstekende orator en ’n sterk (swart) vrou. Per slot van sake is Mazibuko met die hand uitgesoek deur Helen Zille.

Dit was net Mazibuko voor en Mazibuko agter en ’n mens sou sweer sy kon op water loop soos die DA haar opgehemel het.

Maar toe raak die DA uitgekuier met haar en sy word uitgekryt vir ’n arrogante en outokratiese persoon. Die druppel wat die emmer laat oorloop het, was toe sy en Zille verskil het oor die wetgewing oor gelyke indiensneming.

Mazibuko se bene is polities met ’n stomp mes afgesny en sy is uitgewerp in die buitenste duisternis. Mmusi Maimane het toe die gewilde een in die DA geword.

De Lille was op sigself ’n handelsnaam voordat sy met die DA begin flankeer het. Die DA kan dus nie daarop roem dat hulle haar gemaak het nie. De Lille se Onafhanklike Demokrate was nie net ’n belangrike rolspeler in die Kaapse politiek nie, maar sy het ook op nasionale vlak ’n beduidende invloed gehad. Zille wou De Lille egter met alle mag nader hark, want die DA het geweet dat De Lille op voetsoolvlak genoeg gravitas het om die bruin stem op die party te verenig.

In die konvensie en die tradisie in die Afrika-kultuur het niemand ’n brief of toestemming nodig om ’n begrafnisdiens by te woon nie.

Om die ANC tot op sy knieë te dwing was De Lille dus die geskikte kandidaat. Hoewel sy deur die ANC vir ’n politieke askari (uitverkoper) uitgekryt is, het sy as die DA se burgemeesterskandidaat die ANC so opgefoeter in die verkiesing dat hulle nou nog sukkel om te herstel.

Die DA het De Lille se waarde so hoog geskat dat sy betrek is by onderhandelinge met Mamphela Ramphele van Agang – hoewel die politieke huwelik ook nie eens ’n week gehou het nie.

Ook met die koalisie-onderhandelings in die Nelson Mandelabaai-metropool. Johannesburg en Tshwane was De Lille instrumenteel in die delikate gesprekke. Met De Lille wat nou op die randjie is om uit die DA-trop gestoot te word, wonder ’n mens hoe lank hierdie koalisies gaan hou, veral nadat Julius Malema se EFF mense sy kaarte laat sien het en hulle hul by De Lille skaar.

Die kleinlikheid van die DA in die De Lille-sage het hom die afgelope week ook gemanifesteer op die Winnie Mandela-gedenkdiens in Brandfort. De Lille is tussen die reëls getug toe die DA gesê het sy moes hulle ingelig het dat sy die gedenkdiens sou bywoon. In die konvensie en die tradisie in die Afrika-kultuur het niemand ’n brief of toestemming nodig om ’n begrafnisdiens by te woon nie.

Wat laat Maimane dink dat as die DA uitgekuier is met hom hy nie dieselfde pad as Mazibuko en De Lille kan loop nie? Hy het ook ’n vervaldatum, nes enige ander politikus. Dit blyk net in die DA kom die vervaldatum net heelwat gouer vir swart leiers.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger, susterkoerant van Beeld.
Meer oor:  Johann Maarman
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.