Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het DA Leon se visie vergeet?
Jan-Jan Joubert

Sedert die stigting van die Demokratiese Alliansie (DA) in 2000, was die party se uiteindelike strategiese doelwit nog altyd duidelik, naamlik om die ANC te ontsetel en ’n beter regeringsalternatief daar te stel, in belang van die land en die kiesers.

Dit was hoe ’n mens Tony Leon (my gunsteling-politikus van ons tyd) se doelwit verstaan het – ’n maklik verstaanbare en moeilik uitvoerbare ideaal. Dit het byvoorbeeld vereis dat bloubloed-Progs polities introu in die Nasionale Party en later in die Onafhanklike Demokrate. As jy wonder hoe moeilik dit soms was, lees Leon se skerpsinnige en skreeusnaakse beskrywing van sy eerste DA-funksie in Graaff-Reinet in sy boek On the Contrary.

Dit was seker vir diegene met ander politieke stambome ewe moeilik om saam te werk met die Progs, wat soms maar goed stywenek en suur kan wees.

Maar alle betrokkenes het deurgedruk deur die oorloopfase, die Van Schalkwyk-groep se weggly na die ANC en die kultuurbotsings wat aangetroude en ingetroude familie mos maar dikwels bring. Dit kon hulle – met uiters pynlike en onooglike kneusplekke – regkry, danksy Leon se visie.

Die party se steun blyk uit tussenverkiesingsuitslae kerngesond onder veral wit, Engelse voorstedelike kiesers te wees.

Die sentrale waarheid (gaan gerus die syfers na) was dat die DA se ondersteuningsvlakke jare lank gegroei het omdat die party sy kernsteun behou het en deurgaans ’n aantreklike opsie was wat nuwe ondersteuners gelok het, grootliks omdat dit die een party was wat diversiteit goed kon bestuur.

Of so het ons gedink.

Tans is die sentrale waarheid (gaan gerus die syfers na) dat die DA se ondersteuningsvlakke al byna twee jaar lank standhoudend daal. Van nader beskou, wil dit uit beskikbare data voorkom asof die DA se kernsteun verminder en die party nie meer aantreklik genoeg is om veel nuwe steun te trek nie.

Die party se steun blyk uit tussenverkiesingsuitslae kerngesond onder veral wit, Engelse voorstedelike kiesers te wees. Wit Afrikaanse steun bly stabiel, solank die VF Plus nie ’n kandidaat stel nie. Steun onder Indiërs neem af as daar ’n sterk ANC-kandidaat is. Bruin steun versplinter in alle rigtings. Swart DA-steun is moeilik om te meet, want die DA neem aan weinig tussenverkiesings deel in wyke met meer as 80% swart kiesers.

Hiervoor het die DA allerlei verklarings. Hulle blameer mense wat nie meer in die DA is nie, soos Herman Mashaba, Mmusi Maimane en Patricia de Lille; foute van die verlede waaruit geleer word (maar ons word nie dikwels vertel watter foute, of watter praktiese oplossings nou voorgestaan word nie); of les bes, die wêreldwye opkoms van etniese politiek.

Alles word geblameer behalwe die DA se gebrek aan strategiese visie en klaarblyklike onvermoë in veral die vier provinsies noord van die Vaalrivier om diversiteit te bestuur. Die belangrikste tekortkoming is ’n groeiende ongeloof by kiesers dat die DA nog die wil en/of vermoë het om Leon se visie – om die ANC te ontsetel en ’n regeringsalternatief daar te stel – voorop te stel soos in hul groeifase.

Leon het altyd gesê opposisiekiesers sal jou enigiets vergewe behalwe binnegevegte. Onthou die DA dit? Die belangrikste wat opposisiekiesers wil hê is om van ANC-regering verlos te word. Al die ander groot opposisiepartye besef dit en is bereid om met die DA saam te werk, al hou hulle nie daarvan nie. Maar die DA se onvermoë met diversiteitsbestuur maak hulle steeks vir onderhandeling.

Vir baie van ons van liberale oortuiging, veral in die puik bestuurde Wes-Kaap, is daar min opsies buite die DA. ’n Mens wens net die DA self was ’n beter opsie.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Politiek  |  Da  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.