Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het die DA van Zille vergeet?

Die laaste tyd het ek aan ’n wye front kontak gehad met invloedryke DA-mense en -ondersteuners. Oral is daar diepgaande en opregte kommer oor die malaise wat van die DA besit geneem het.

Baie van hulle is uit huis uit stoere DA-mense en die refrein was: Hoe het die DA hier beland dat hulle nou nie meer seker is of hulle hul kroonjuweel – die Wes-Kaap – met ’n volstrekte meerderheid gaan behou nie?

En as hulle wakker lê oor die Wes-Kaap, wat is die kans dat hulle die ANC in die res van die land uit die regeerstoele kan skouer?

Basies nul.

Opmerklik het aan ’n breë front ’n ontnugtering ingetree, nie net oor Mmusi Maimane nie, maar ook oor die DA se algemene koers. En kommer oor wat wag as die EFF se ondersteuning klim en hulle met die ANC in die bed klim, soos hulle met die kwessie van grondonteiening gedoen het.

Dit sal beteken dat die DA gereduseer word tot ’n raas-en-blaas-party met geen werklike impak om die ANC te stuit nie.

Die DA weet dit, vandaar die amper senuagtige SMS-veldtog dat mense moet registreer om die EFF en die ANC uit te hou. Die EFF en die ANC leef immers volgens dieselfde mantra: Politieke mag is die lewe. Die res is detail.

Dit laat die vraag: Is Maimane die regte kaptein vir die DA-fregat? Een ding wat ek weet, is dat Maimane se mag in die DA aan die versmelt is.

Een ding wat ek weet, is dat Maimane se mag in die DA aan die versmelt is.

As die DA in Mei nie die gewenste uitslae by die stembus behaal nie, gaan sy kortstondige politieke loopbaan eindig in ’n makabere, openbare sterwensritueel. Dit gaan pynlik wees vir Maimane en die DA, want die assegaaie gaan op sy rug reën.

Hierdie SMS-veldtog van die DA is bloot ’n terugkeer na die Tony Leon-era met sy Veg-terug-strategie. Ons almal weet dit het hom niks in die sak gebring nie en kiesers eerder afgeskrik.

Maimane het emmersvol charisma, maar dit laat kiesers nou nie in ’n beswyming verval nie. Hy is ’n briljante orator, maar dit help niks as jy mense nie kan oorreed om ’n DA-lidmaatskapkaart uit te neem nie.

Tot sy krediet het Maimane in die parlement vir Jacob Zuma al sy dae gegee, maar die ANC het ’n nuwe chief in Cyril Ramaphosa. Maimane plant houe teen Ramaphosa, maar dit is sulke kielie-houe. Onskadelik.

Die DA sit met ’n dodelike politieke wapen in sy arsenaal, maar gebruik dit nie – hoewel hulle met die rug teen die muur is.

Net in die afgelope week het Gwen Ngwenya, die DA se beleidshoof, bedank.

’n Mens het nie ’n dekodeerder nodig gehad om Ngwenya se redes vir haar bedanking te ontsyfer nie. Die kruks van haar bedanking is dat sy ondermyn is en dat die DA meer energie bestee het aan kennisgewingborde as aan beleid.

Is daar nog hoop vir die DA? Natuurlik; hulle sê mos maar die hoop beskaam nooit. Die DA sit met ’n dodelike politieke wapen in sy arsenaal, maar gebruik dit nie – hoewel hulle met die rug teen die muur is.

Al stem jy nie aldag saam met Helen Zille nie, weet sy hoe om verkiesings te wen. Sit Zille op ’n verhoog of agterop ’n bakkie om stemme vir jou te gaan soek en die kans is goed dat jy as oorwinnaar uit die stryd gaan tree.

Haar teenstanders kry die horries juis omdat sy so ’n formidabele politikus is. Sy weet hoe die kiesers se hart klop.

Natuurlik wil Maimane die gesig van die DA wees, maar dit help nie jy steek ’n mede-demokraat se talente onder die maatemmer weg nie.

Of Mmusi daarvan hou of nie: Dis tyd dat die DA herbesin oor Zille se rol in hul verkiesingstrategie voordat dit te laat word.

Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Johann Maarman  |  Helen Zille  |  Stemme  |  Verkiesing 2019  |  Da  |  Kiesers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.