Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het enigiets die afgelope kwarteeu verander?

Wat het enigsins in die laaste kwarteeu ten goede verander, behalwe dat alle diskriminerende wetgewing afgeskaf is? vra MC Botha in die 25ste jaar van demokrasie in Suid-Afrika.

’n Verkiesingsplakkaat in Zwelihle buite Hermanus in April 1994. Foto: MC Botha

Die gevoel van afwagting was tasbaar namate die oomblik al nader gekom het vir die “Moeder van die nasie” – Winnie Madikizela-Mandela – om haar verskyning te maak. Die gemeenskapsaal was oorvol en mense moes noodgedwonge teen mekaar vasdruk terwyl die sweet hulle reeds aftap. Daar was geen lugreëling in die saal nie en die enkele oop deure het kwalik enige verligting gebied.

Waarom sy juis Zwelihle – stellig die kleinste township in die land – kom besoek het, was ’n raaisel. Dalk het dit iets te doen gehad met die veel bekender wit buurdorp Hermanus, immers die vakansiestandplaas van aartskapitaliste soos die Ruperts en Gavin Relly aan die een kant en aartsvyande FW de Klerk en Magnus Malan aan die ander kant.

Ek word teen die verhoog vasgedruk, hygend na asem, maar hou tog moed.

Ten einde laaste was sy nie soos gebruiklik laat nie, maar het in der waarheid glad nie opgedaag nie. In haar plek arriveer genl. Bantu Holomisa, toe nog ’n fanatiese ANC-ondersteuner en soos Winnie aan die voorpunt om die nasie op te sweep met die oog op die eerste demokratiese verkiesing net om die draai.

Die verwelkomingskomitee van die ANC se Zwelihle-tak het sy beste voetjie voorgesit om die besoekende gaste tuis te laat voel. ’n Verskeidenheid goedkoop geel en groen koeldrankbottels is netjies langs drinkglase op ’n tafel op die verhoog gerangskik, tesame met bordjies opgepofte oranje Nik Naks.

’n Erewag voor die tafel het hul hande vol om oorywerige lede van die skare te verhoed om tot bo-op die verhoog te klouter.

Te midde van luide ululering word ek onverwags meegevoer na die Utopia wat net agter die horison vir ons almal wink.

Niemand was skynbaar gepla dat Holomisa die godin as spreker kom vervang het nie. Tog wel verkondig hy dieselfde boodskap: Hy steek sy vuis triomfantelik in die lug en roep uit, “Amandla!”

Die menigte antwoord dat die biesies bewe.

In die enkele sinne dat Holomisa Engels praat en nie Xhosa nie is ek verbaas om te hoor hy predik vrede en versoening, net soos sy leier. Hy hou trouens die spreekwoordelike hand van vrede teenoor alle blankes uit – net jammer ek is die enigste wit gesig in die see van swartes.

Te midde van luide ululering word ek onverwags meegevoer na die Utopia wat net agter die horison vir ons almal wink. Skielik voel ek heeltemal op my gemak om net nog ’n naamlose een in die massas te wees, ’n ware seun van Afrika, vir eens ontslae van die las van die kleur van my vel.

Dit was presies 25 jaar gelede.

Is daar vandag meer welwillendheid?

Wat het geword van die beter lewe vir almal wat in 1994 belowe is? Foto: MC Botha

En vandag?

Nie meer die gelukkige kêreltjie van toe nie.

Wat het enigsins in die laaste kwarteeu ten goede verander, behalwe dat alle diskriminerende wetgewing afgeskaf is?

Is daar meer welwillendheid tussen swart mense en wit mense? Is die werkloosheidsyfer laer? Is daar behuising vir almal? Is daar werksekerheid, durf ’n mens vra vir wit mense ook? Doeltreffender openbare vervoer? Beter munisipale dienslewering? Minder besoedeling? Genoeg Eskomkrag?

Ha ha!

Tog kom die son steeds op en jy hoef nie ver te soek om ’n kind te sien lag nie.

Maar die feit bly staan dat landwyd het privaatskole openbare skole vervang, onbegrensde eiendomme waar mense kon kom en gaan soos hulle wil, het klein tronke geword omring met elektriese omheinings en hakiesdraad, die polisiemag is vervang met private veiligheidsmaatskappye, dié wat het en dié wat nie het nie bly steeds in hul geslote, afsonderlike gebiede. En so hou die lysie net aan.

Pleks daarvan om demokrasie te vind het ons apartheid geprivatiseer.

* MC Botha is 'n skrywer wat in Hermanus woon. Dié rubriek het oorspronklik in Hermanus Times verskyn. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Winnie Mandela  |  Mc Botha  |  Bantu Holomisa  |  Zwelihle  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.