Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het Grondwet dan dít bedoel?
Amanda Gouws
Prof. Amanda Gouws Foto: Verskaf

Daar is diegene wat verlede week se appèlhofuitspraak oor haatspraak as ’n deurbraak vir vryheid van spraak beskou. Ek is nie een van hulle nie. Luidens hierdie uitspraak is uitinge net haatspraak as dit tot skade of geweld aanleiding gee.

Die gronde waarop die Grondwet haatspraak verbied, is propaganda vir oorlog, aanstigting van dreigende (imminent) geweld, en die verkondiging van haat gegrond op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens wat aanhitsing om skade te berokken, uitmaak.

Die verskil nou is dat enigiemand wat ’n saak van haatspraak wil maak, sal moet bewys dat die bedoeling van die uitinge was om iemand of ’n groep (soos gays) skade te berokken.

Hierdie uitspraak was in die guns van Jon Qwelane, oudambassadeur na Uganda en joernalis, wat in ’n rubriek geskryf het dis “nie oukei” om gay te wees nie. Hy het ook wyle oudpres. Robert Mugabe oor sy optrede teen homoseksuele mense in Zimbabwe geprys.

Gegewe die bepalings van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (Pepuda) het gay-aktiviste nie verwag dat die uitspraak ten gunste van Qwelane sou wees nie.

As ’n sosiale wetenskaplike weet ek hoe moeilik dit is om oorsaaklikheid te bewys omdat menslike gedrag kompleks is en nie net een faktor bydra tot oorsaaklikheid nie.

Maar uit ervaring weet ons dat diegene wat haatspraak besig, dikwels nie self die geweld pleeg nie. Hulle inspireer net ander om dit te doen.

Die beste wat ons gewoonlik met navorsing kan doen, is om ’n korrelasie te vind.

Maar uit ervaring weet ons dat diegene wat haatspraak besig, dikwels nie self die geweld pleeg nie. Hulle inspireer net ander om dit te doen.

Qwelane het hierdie uitsprake uit Uganda gemaak waar homofobiese geweld (steeds) hoogty vier. Sy uitsprake het bygedra tot skade, maar hoe kan dit bewys word? Hy ontken dit.

Hierdie uitspraak verskraal die toepassing van die wet, maar kyk blykbaar die transformasie-verpligting van die Grondwet mis.

Die uitspraak beroep hom daarop dat daar robuuste gesprek in die samelewing moet wees en dat ons nie kleinserig moet wees as ons beledig word nie.

Dít maak die deur oop vir die gebruik van skelwoorde rondom ras en geslag wat die reeds bestaande diepe verdeeldheid sal vererger.

Want nou kan elke liewe mens wat rassisties, homofobies of seksisties is, sê net wat hulle wil en dan redeneer dat hulle nie bedoel het om iemand skade te berokken nie.

Die gedagte van robuuste debat het sy oorsprong in die vrye mark van menings, waar elkeen kan sê wat hulle wil omdat vryheid van spraak dit toelaat.

Dit is ’n liberale gedagte wat nie tred hou met die eggokamers van sosiale media waar trolls soveel haat uitspoeg sonder om ooit na enige ander opinie te luister nie. Ons woon nie meer in die Griekse stadstaat waar opvattings (deur mans) gedebatteer is nie.

Wat misgekyk word, is vicarious victimization, waar gemeenskappe in geheel geviktimiseer word. Beledigings teen lesbiese vroue word die teelaarde vir mans wat lesbiese vroue verkrag en vermoor.

Moet lesbiese vroue in vrees lewe en wag totdat hulle vermoor word omdat hulle nie kan bewys dat die geweld dreigend is nie? Dit is tog sekerlik nie die bedoeling van die Grondwet nie?

Ons is ’n samelewing met ’n verlede waar skelwoorde op grond van ras aan die orde van die dag was. Dit het ernstige sielkundige letsels gelaat.

Hoe gaan ons die impak van haat­spraak bepaal as die bewyslas dat skade berokken is, so beperk is?

Miskien lewer die konstitusionele hof ’n ander uitspraak.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Haatspraak  |  Rassehaat  |  Rassisme  |  Hofuitspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.