Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het kiesers aptyt vir nóg ’n politieke party?
Philda Essop

‘Werkers van die wêreld, verenig; julle het niks om te verloor behalwe jul kettings nie.”

Dié aanhaling van Karl Marx was waarskynlik die inspirasie vir die stigting van die metaalvakbond Numsa se nuwe politieke party, die Socialist Revolutionary Workers Party (SRWP).

Volgens Numsa het die Verkiesingskommissie (VK) ingestem dat hy onder die vaandel van die SRWP aan 2019 se nasionale verkiesing mag deelneem.

Die vraag wat onmiddellik by ’n mens opkom, is of Suid-Afrikaners aptyt het vir nóg ’n politieke party. Sedert 1994 het die meeste van die talle nuwe partye nie juis veel impak gemaak nie.

Daar is letterlik honderde politieke partye – 585 om presies te wees – by die VK geregistreer. Hiervan is 271 op nasionale vlak geregistreer, die res op provinsiale en munisipale vlak.

Hulle verteenwoordig ’n wye reeks belange – van geloof, gelyke regte en ekonomiese bevordering tot natuurlik politieke bevryding.

Politieke kenners meen die SRWP sal kiesers lok wat tuis voel aan die “radikale linkerkant” van die politieke spektrum.

Politieke kenners meen die SRWP sal kiesers lok wat tuis voel aan die “radikale linkerkant” van die politieke spektrum. Maar is daar ’n behoefte na ’n werkersparty in die huidige politieke bestel?

Die meerderheid werkers wat deur die vakverbond Cosatu verteenwoordig word en in alliansie met die ANC is, se stemme gaan na dié party. Net so is die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) in alliansie met die ANC. Dié party het egter verlede jaar aangedui dat hy dit sal oorweeg om verkiesings voortaan op sy eie aan te durf. Dit is egter onduidelik of die SAKP aan die 2019-verkiesing gaan deelneem.

’n Nuwe werkersparty kan dus ’n opwindende alternatief in die huidige bestel wees.

Met al die binnegevegte, korrupsiebewerings, eiebelang, leë beloftes en arrogansie van bestaande politieke partye kan die SRWP ’n vars en opwindende opsie vir ontnugterde kiesers wees.

Ja, die ANC onder leiding van pres. Cyril Ramaphosa probeer alles in sy vermoë om die land reg te ruk. Minstens twee kommissies het reeds merkbare vordering gemaak en gelei tot die bedanking en afdanking van twee senior figure, Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, en Tom Moyane, kommissaris van die SA Inkomstediens.

Faksies kniehalter egter steeds die ANC en die party kan maar net nie ontslae raak van die spook van korrupsie nie.

Die DA se skouspelagtige swak hantering van die Patricia de Lille-kwessie aan die ander kant, kan dié party duur te staan kom. Die bedanking van agt raadslede in die Kaapse stadsraad in solidariteit met De Lille, en die gepaardgaande bewerings van rassisme en arrogansie in die party. voorspel niks goed nie. Ook die EFF, Cope en die UDM baklei teen hul eie demone.

’n Party wat werkers verteenwoordig, kan dalk ’n goeie idee wees. Só ’n party moet egter, soos enige ander party, teen populisme waak en nie van sy mandaat afdwaal wat die werkers weer kan ontnugter nie.

  • Essop is ’n politieke joernalis by Netwerk24.
Meer oor:  Philda Essop  |  Verkiesing  |  Politiek  |  Sakp  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.